Hoe bak ons brood langs die pad

Om brood langs die pad te bak is so maklik soos een- twee-drie. Ons gebruik al vir die afgelope ses jaar 'n Pioneer Plastics staal brood oond en kan nie sonder hom enige reis aanpak nie. Hermien het vir ons oondjie 'n slopie gemaak van 'n ou handdoek om te voorkom dat hy nie alles waarin hy in kontak kom swart smeer of beskadig nie.

Jy het ook die volgende nodig vir 'n suksesvolle brood bak oefening, 'n klein grafie, 'n braaitang waarmee jy die kole kan skuif en natuurlik 'n stel vatlappies (die beste kleur vir my is swart) om die warm broodpannetjie te kan hanteer.


Ek begin deur so ongeveer 24 houtskool brikette eenkant op 'n veilige plek aan te steek met vuuraanstekers, so twee tot twee en 'n half uur voor ete. Die houtskool brikette sal oor presies 1 uur gereed wees. My volgende stap is om 'n gat in die grond te maak waarin die oondjie net mooi netjies kan pas. Die rede vir die gat is om altyd dieselfde bak omstandighede te verkry en glad nie deur die wind beïnvloed te word nie.

Die volgende stap is om die broodjie se deeg aan te maak. Gebruik een van die resepte op ons webblad as jy nie jou eie resep het nie. Indien jy die Hentiesbaai broodjie wil maak wat eers moet rys sou ek aanraai dat jy eerste die broodjie se deeg aanmaak of vroulief vra om dit vir jou te doen terwyl jy begin vuurmaak, aangesien die deeg so vir 'n uur moet rys voordat jy hom in die oond kan sit.

Wanneer die kole gereed is, so plus minus 1 uur nadat ek hulle aangesteek het, plaas ek twee stukkies hoekyster wat ek van 1.2mm gegalfaniseerde plaat gebuig het (50 x 50mm en 120mm lank) onder in die gat met hul rugkant na bo. Ek plaas dan 10 kole onder in die gat en plaas die oondjie daarop in die gat. Volgende plaas ek die broodpannetjie met die deeg in die oondjie en nadat ek die deksel toegemaak het plaas ek 8 kole netjies gespasieer op die deksel. Die orige ses kole sit ek so twee twee aan die sykant tussen die gat se wand en die oondjie en dan een aan elke kopkant.

Jammer dit blyk dat ek nie kan tel nie, maar 10 kole onder is genoeg en elf sal ook nie skade doen nie.

Na 55 minute haal ek versigtig die kole van die deksel af, want dit mag dalk nodig wees om hul terug te sit indien die broodjie nie 100% gaar is nie, vee die as van die deksel af en lig die deksel op. Met 'n ou breipen of skerppunt mes steek ek in die middel van die broodjie 'n gaatjie. As daar nie meer klam deeg vas sit aan die breipen of mes nie, dan is ons broodjie gaar. Indien nog nie gaar nie maak die deksel toe sit die kole terug op die deksel en wag nog so 5 minute en kyk dan weer.

Die gaar broodjie met sy pan haal ek met die koletang en vatlappies uit en plaas dit onderste bo op 'n skoon afdroogdoek. Indien hy nie vanself uit die pannetjie gly nie, dan maak ek 'n opwaslap nat met koue water, droog dit effens uit en sit dit dan oor die onderkant van die pannetjie. Dit laat die broodjie effens sweet en na twee tot drie minute gly die broodjie uit die pannetjie. En siedaar jou eie tuisgebakte brood in die bos.

Onthou 'n warm brood sny altyd moeiliker as een wat effens af gekoel het, maar ai, 'n sny warm brood met botter wat so effens begin smelt is darem maar lekker.

Jou werk is ongelukkig nog nie klaar nie. Dit is jou plig om die gat wat jy gegrawe het weer netjies toe te maak met die kole en as daarin. Onthou om eers die twee gegalvaniseerde hoekysters uit te haal ('n mens kan hul maklik in die donker onder in die gat vergeet) voordat jy die gat toe gooi en die grond weer stewig vas trap. Die gedagte is dat jy moet nie eens kan sien dat daar 'n gat was of vuurgemaak is nie. Die hoofrede waarom jy die gat dadelik nadat jy die oondjie uitgehaal het moet toe gooi is sodat niemand per ongeluk daarin trap of val nie, veral nie met die orige warm kole nog daarin nie. Wees dus veral versigtig as daar kinders naby is.

Laaste Bywerking: 2014/04/09

Flag Counter