HOE OM JOU PAD IN DIE BOS TE VIND

  1. ONS ROETEGIDS: DIE GPS
  2. Die mees belangrike stuk gereedskap vir 'n 4x4 reisiger om sy pad te vind is 'n GPS. Sonder hierdie stukkie toerusting sou ek en Hermien menigte kere al verlore en sleg verdwaal gewees het. Voordat ek verder uitbrei oor watter GPS om te kies en hoe om dit te gebruik moet ek die volgende eers sê; 'n GPS is net 'n goeie stuk gereedskap solank jy 'n terugval posisie het ('n Plan B) naamlik 'n volledige en gedetailleerde stel papierkaarte van die gebied waardeur jy wil reis, byderhand te hê. Op meer as een geleentheid moes ons al terugval op ons papier kaate of alternatiewelik ons T4A op ons skootrekenaar. Laas genoemde is nie 'n goeie Plan B nie want jou skootrekenaar se battery mag ook pap wees. My lêer met die papier kopieë van ons daaglikse roetes het ons ook menigte kere uit die verknorsing gehelp.

    Ons gebruik tans twee GPS'se, die eerste is 'n GARMIN Nuvi 710 wat 'n netjiese groot skerm het (109mm van hoek tot hoek), nuwe kaarte kan laai deur slegs die standaard straat roetes wat op sy oorspronklike MicroSD geheue kaart gelaai is, te vervang met een waarop 'n nuwe kaart stel gelaai is soos T4A. Tweedens kan ons hierdie GPS gebruik om op ons ou roete terug te navigeer indien ons sou besluit dat die twee spoor roete waarop ons tans ry onveilig is of eenvoudig doodloop teen 'n natuurlike hindernis waaroor of deur ons nie kan gaan nie. Verder kan ons roetes wat ons vooraf op MapSource beplan het aflaai op hierdie GPS. Die finale roete gery kan later ook weer van hierdie GPS na ons skootrekenaar afgelaai word.

    So lyk die GARMIN NUVI 710 wanneer jy hom aanskakel.

    Die mees algemene en mees gesogte 4x4 GPS was die ou wel bekende GARMIN GPSMap 276C, skerm grote 95mm. Ongelukkig is beide van hierdie GPS'se nie meer verkrygbaar nie en sou ek reken dat die GARMIN Montana 600 of 650 (met 5 MP outofokus digitale kamera) die aangewese vervanging sal wees. Die enigste beswaar wat ek teen hierdie GPS'se het is dat hulle BaseCamp in plaas van MapSource as roete beplanner gebruik. Eersgenoemde is nie so verbruikersvriendelik as MapSource nie.

    Die beroemde en mees geliefde 4x4 GPS die GARMIN GPSMap 276C.

    Ons tweede GPS is ook 'n ou produk naamlik 'n GARMIN GPSMap 60 CSx wat eintlik vir stappers bedoel is. Hy werk met beide AA flitsbatterye en 12V vanaf jou voertuig. Wanneer hy in ons voertuig saamry, gebruik ons 'n lae profiel eksterne antenna (Garmin GA 25 MCS). Hierdie GPS kan nie net die roete afgelê in sy geheue vaslê nie maar ook die hoogte bo seespieël soos gereis plaasvind. Hy het al die funksies van die Nuvi 710 maar net meer ('n kompas, barometriese druklesings, etc.) en beter. Sy twee grootste frustrasies is dat hy 'n baie klein skerm (66mm) het, vir my te klein om op te ry, verder neem dit 'n ewigheid om die naam van enige verwysingspunt in te tik. Maar wanneer jy die pad vat te voet weg van jou voertuig af is dit 'n onontbeerlike stukkie gereedskap. Die nuwe weergawe van hierdie GPS is die GARMIN GPSMap 62 S of 62 SC met sy ingeboude 5 MP outofokus digitale kamera. Beide hierdie GPS'se is skok en water bestand, het ook 'n hoogte meet funksie en 'n kompas.

    Ons GARMIN GPSMap 60CSx wat eintlik vir stappers bedoel is.

    Ek het onlangs 'n GARMIN Nuvi 2595 LMT aangeskaf wat nog 'n groter skerm het (127mm) vir my stedelike dag tot dag ry, maar ons is nog nie so gemaklik met hom soos met die Nuvi 710 nie op 4x4 roetes nie. Dit is vir my of hy nie al die inligting vertoon wat ek beskikbaar het op T4A wanneer ek ry nie, alhoewel dit wel op die Nuvi 710 sigbaar is. Daar is ook te veel funksies wat 'n 4x4 reisiger nie sal gebruik nie maar die stadsjapie baie opgewonde sal laat soos verkeersinligting en 'n alternatiewe roete vind funksie ens.

    Die GARMIN NUVI 2595 LMT (Die regter skerm vertoon tydelik hoe die wisselaar voor jou fisies lyk).

    Ek het ongelukkig geen ondervinding van TOMTOM GPS'se nie en kan dus nie raad gee t.o.v. hulle nie. U sal maar op die internet moet soek vir meer inligting. Hierdie artikel behoort darem te help om die regte een te kan kies.


  3. WAT SOU EK AANRAAI

    1. 'n Goeie 4x4 ry GPS moet die volgende eienskappe of funksies besit:

      1. 'n Netjiese groot kleur skerm wat nie te veel blink nie,
      2. 'n aanraak skerm waarmee jy maklik inligting kan invoer tot die GPS,
      3. Hy moet 'n MicroSD gleuf besit waarin jy ander kaart stelle op MicroSD kaarte kan installeer,
      4. Interne geheue van ongeveer 2 GB besit,
      5. Minstens 10000 krummelpunte kan los op jou roete soos jy ry,
      6. Minstens 10 afsonderlike roetes met minstens 200 besoekpunte elk, op sy interne geheue kan laai sonder dat sy brein deurmekaar sal raak,
      7. Minstens 1000 nuwe besoekpunte wat jy self insleutel kan neem,
      8. 'n Funksie besit wat jou op jou pas geryde roete weer kan terug kan navigeer sou jy dalk verdwaal net,
      9. 'n Stem wat jou kan waarsku wanneer jy moet draai en indien moontlik ook wat die straat se naam is (hierdie funksie kan soms irriterend wees maar 90% van die tyd help dit baie veral as jy in 'n vreemde stad moet bestuur en op die verkeer moet konsentreer),
      10. Die vermoë besit om kaarte of roetes direk te kan oplaai vanaf jou skootrekenaar en later weer die roete soos gery te kan aflaai na jou skootrekenaar toe,
      11. 'n GPS draer wat aan jou voertuig se voorste venster kan vassuig en daar sal bly ongeag die rofheid van die reis.
      12. 'n 12V kragkabel wat die GPS deur middel van die sigaretaansteker kragpunt kan voer. Indien jy nie een saam met jou GPS kry nie koop een aan.

    2. Vir die persone met 'n stywe begroting.
    3. Koop 'n GARMIN NUVI 2497 LMT teen R2600.00 met 'n 109mm skerm of die NUVI 2597 LMT Teen R 3000.00 met sy 127mm skerm, wat jy vir jou elke dag se ry kan gebruik maar wanneer jy wil 4x4 reise onderneem, die T4A kaart stel vanaf 'n microSD kaart kan laai. Beide hierdie GPS'se het presies dieselfde funksies net die skermgroottes verskil. Hierdie GPS'se het 'n baie kort buite die voertuig gebruikstyd (ongeveer 2 uur) en verkies om op jou voertuig se 12V stelsel gekoppel te bly. Jy kan dus nie met hom gaan stap nie. Onthou jy moet ook nog 'n T4A kaart stel op MicroSD kaart aanskaf teen R790.00.

    4. Vir diegene wat graag 'n goeie betroubare produk wil aanskaf en 'n groter begroting tot sy beskikking het.
    5. Ek sou dan aanraai dat jy vir jou 'n GARMIN Montana 600 of indien jy ook foto's met geverifieerde GPS koördinate by wil neem, koop dan 'n Montana 650. Die voordeel van hierdie GPS is dat jy dit vir elke dag se ry kan gebruik, jou 4x4 T4A kaarte via die MicroSD gleuf kan laai en ook die GPS op staproetes kan gebruik met sy ingeboude, barometer, kompas en hoogtemeter. Die battery leeftyd met 3 x AA tipe batterye is ongeveer 22 uur. Prys vir die Montana 600 is tans R6500.00 en sluit reeds 'n Garmap Suider Afrika kaart stel in. Die prys van die Montana 650 is tans R7400.00 op GARMIN SA se webblad. Ek is seker deur 'n bietjie rond te kyk behoort jy 'n baie beter prys as vermeld te kan raakloop. Moet nie vergeet om jou 'n T4A kaart stel op MicroSD kaart te koop nie.

      Aan die regterkant die MONTANA 600 en aan die linkerkant die MONTANA 650.
    6. As geld nie 'n rol speel nie.
    7. As geld glad nie 'n rol speel nie sou ek twee GPS'se aanskaf. Die eerste sal my elke dag se gebruik GPS wees naamlik 'n Garmin ZUMO 660 wat eintlik vir motorfietse ontwikkel is. Hy het 'n groot kleur skerm (109mm), met baie funksies maar kom sonder enige kaart stel. 'n Garmaps kaart stel gaan jou nog 'n verdere R1000.00 uit die sak jaag. Die Zumo 660 word op GARMIN SA se webblad tans teen R6950.00 verkoop.

      Die netjiese GARMIN ZUMO 660 Motorfiets GPS wat jy in jou motor en losstaande kan gebruik (Die battery hou so vir 5 ure voordat dit weer gelaai moet word.)

      Alhoewel die ZUMO 660 ook draagbaar is is hy te groot en sy battery lewe te kort vir staproetes. Hiervoor sal ek die nuwe Garmin GPSMap 62 SC aanskaf en dan ook gebruik met 'n eksterne antenna as my roete gery vaslê /stoor GPS en terselfdertyd ook as my rugsteun GPS. Jy het ook 'n battery leeftyd van 16 uur. Hy kan natuurlik ook met behulp van 'n kabel wat verskaf word, as deel van die pakkie, aan jou motor se 12V stelsel gekoppel word deur die sigaretaanstekerpunt.

      Die GARMIN GPSMap 62 SC draagbare GPS met 'n 5 MP outofokus kamera.

      Op die ZUMO 660 sal ek GARMAP se “Sub Saharan Africa Streetmaps” laai gerugsteun deur T4A op MicroSD kaart.

      Op die GPSMap 62 SC sal ek GARMAP se “Southern Africa TOPO and REC” kaart stel teen R1300, laai gerugsteun deur 'n tweede T4A op MicroSD. Die T4A MicroSD kaart kan wel vir enige van die twee GPS'se gebruik word maar net een per geleentheid. Nou kon jy reeds net op jou 4x4 navigasie behoeftes 'n allemintige R 16500.00 gespandeer het, wat ek werklik nie sou aanraai nie.

  4. WAT KAN VERKEERD GAAN MET MY GPS?

  5. Ons het al die volgende op ons reise oorgekom:
    1. Die sein verloor vanweë 'n dig begroeide gebied of swaar bewolkte hemelruim waar die GPS nie meer die satelliete kan sien nie en dus nie meer kan navigeer nie.
    2. Die GPS verloor sy oorsprong, die punt waar jy begin het om te navigeer die dag en sodoende sy vermoë om die roete waarop jy ry te kan bereken. Die GPS bly vir jou sê “Re-calculating” Die roete wat jy moet ry is dus verlore,
    3. soms is die werklike roete net te vêr weg van die een wat die GPS bereken het en begin hy met dieselfde boodskap “Re-calculating” maar kan net nie uit hierdie lus kom nie. Die roete wat jy moet ry is dus weereens verlore,
    4. daar geen data op die geheue kaart is van die area waardeur jy wil reis. Die GPS kan dus nie 'n roete beplan nie en daar is geen paaie te sien op die GPS self nie,
    5. die krag vanaf die 12V punt in jou voertuig is nie beskikbaar nie (jy mag 'n gesmelte sekeringsdraad hê), die GPS sal baie spoedig ophou funksioneer,
    6. jy kon dalk vergeet het om jou T4A of Garmap “Sub Saharan Africa Streetmaps” saam te neem en net 'n kaart stel van Suid Afrika se stede en hoofpaaie op jou GPS hê. Die minimum kaart stel wat op baie basiese GPS gelaai word wanneer dit verkoop word,
    7. verder kon jy selfs vergeet het om die roetes wat jy wil ry, veral as dit ongebaande weë is, op jou GPS te laai.

    Bogenoemde probleme kan instrument tipe gebonde wees en nie altyd by almal voorkom nie. Sou dit wel gebeur is jy sonder 'n tweede GPS met die regte kaart stel en 'n stel papier kaarte in groot moeilikheid en kan jou en jou reisgenote se lewens in gevaar wees.

Laaste Bywerking: 2013/12/19

Flag Counter