WAT IS DIE MINIMUM OMBOUINGS BENODIG VIR JOU 4x4

Hierdie is 'n baie moeilike vraag, waarvoor daar soveel antwoorde sal wees as vrae. Baie motoriste bou hul 4x4 om sodat dit mooi of indrukwekkend kan lyk en wat dus niks met funksionaliteit te doen het nie. Gewoonlik word die meeste verbeteringe nooit aangewend tydens 'n reis nie. Let ook daarop dat ek nie vir die 4x4 roete entoesiaste voorsiening maak nie.


  1. VOERTUIE WAT HOOFSAAKLIK IN GEORGANISEERDE GROEPE REIS.
  2. (Voertuig word een keer per jaar vir 'n twee tot drie weke 4x4 reis gebruik word en vir die res van die tyd dien dit as 'n Werk, Kerk en Ontspannings voertuig.)

    Ek sou die volgende minimum opgraderings aanbeveel vir 4x4 voertuie wat in toergroepe en saam met toeroperateurs ry:

    1. Indien jy 'n bakkie ry is die eerste groot uitgawe die van 'n kappie wat kan toesluit, lig, met vensters waardeur jy nie kan inkyk nie of liefs soliede deure wat aan die kante en natuurlik agter kan oopmaak vir maklike toegang tot alles wat jy wil vervoer.
    2. Indien jy 'n SUV / stasiewa tipe 4x4 ry, skaf vir jou 'n dakrak aan, volle dak lengte indien moontlik. Vir dubbelkajuit voertuie sou ek 'n dakrak oor die kajuit verkies bo een oor die laaibak met sy kappie, aangesien die laaibak gewoonlik redelik swaar gelaai word. Hierdie dakrak kan natuurlik verwyder word wanneer daar nie gereis word nie.
    3. Die volgende op my lys is of jou huidige brandstoftenk genoeg brandstof kan hou om minstens 1000 km gewone pad te kan ry sonder om weer vol te maak. Dit beteken so ongeveer 650 km in lae strek 4x4. Indien nie, laat installeer 'n tweede brandstoftenk. 'n Alternatief waarvan ek nie baie hou nie is om brandstof in los 20 liter “Jerry” kanne saam te ry, verkieslik nie op jou dakrak nie aangesien dit die stabiliteit van jou voertuig mag beïnvloed, aangesien die meeste 4x4 reisigers daktente op hul voertuie laat installeer.
    4. Die vierde item is 'n spaarwieldraer, want daar is selde plek binne in die laairuim, vir jou tweede spaarwiel wat 'n moet is. Sommige ontwerpe kan op jou sleephaak vasgebout word ander weer benodig 'n spesiale agterste buffer. Weereens kan jou tweede spaarwiel op 'n dakrak saam gery word wat net nog gewig na bo skuif en jou voertuig se stabiliteit nog verder sal beïnvloed. Indien jou spaarwiel in jou kappie kan pas dan het jy nie 'n draer nodig nie, maar onthou om die spaarwiel goed vas te maak wanneer jy ry, let wel nie net goed vasgepak nie.
    5. Installeer twee stewige herwinningspunte voor en agter op jou voertuig, indien jou voertuig nie standaard daarmee uit kom nie. Maak seker dit is stewig bevestig aan jou voertuig se onderstel.
    6. Installeer 'n tweede battery stelsel in jou voertuig sodat jy 'n 12V yskas/vrieskas kan saamry. Dit kan 'n draagbare tipe wees solank dit net stewig in die voertuig bevestig kan word. Jy sal wel die nodige bedrading van jou voertuig se alternator na die agterkant van jou voertuig moet deur trek. Hiervoor word redelike dik drade benodig.
    7. Skaf 'n 12V yskas/vrieskas aan. Onthou koel vroue en kinders maak 'n reis baie genietlik en 'n koue bier aan die einde van 'n dag se reis met 'n lekker stukkie bees of skaap op die kole bly maar bobaas.
    8. Die volgende stap sou wees om jou standaard skokbrekers op te gradeer na 'n swaardiens tipe verkieslik sonder om die voertuig se suspensie te lig. Hier gaan jy baie sukkel want al die 4x4 toebehore winkels verkoop gewoonlik net skokbrekers vir geligte veerstelsels. Hulle sal dus hard probeer om 'n volledige stelsel aan jou te wil verkoop. Baie geld is gewoonlik hier ter sprake. Besluit maar self.
    9. Wat ek eerder sal aanbeveel is 'n skermplaat onder aan die voorkant van jou voertuig om te keer dat 'n klip nie per ongeluk jou enjin se oliebak 'n gat in stamp nie.
    10. Oorweeg dit om die asemhalingskleppe wat op jou voorste en agterste ewenaars asook jou ratkas geïnstalleer is te verhoog deur verlengingspypies op te sit en die kleppe dan so hoog moontlik teen die voertuig se kajuit vas te maak om sodoende te voorkom dat water deur jou warm ewenaar ingesuig word wanneer jy deur diep koue water ry. Water in jou ewenaar olie kan tot groot probleme lei.
    11. Maak seker dat jy 'n stel goeie alle terrein bande op jou voertuig het.
    12. Installeer 'n stel wasbare sitplekoortreksels in jou voertuig. Na die eerste reis sal jy weet waarom. Ongelukke gebeur so gou in 'n voertuig as daar geeet en gedrink word terwyl die voertuig beweeg. Verder kom daar baie stof in ten spyte van toe vensters en natuurlik modder of stof aan jou klere sou jy dalk 'n band moes vervang of onder aan jou of 'n vriend se voertuig moes werk.
    13. Ten slotte maak seker dat jy minstens een klein (1kg) poeier brandblusser byderhand in jou motor geïnstalleer het. Baie installeer hierdie brandblussertjie net voor hul sitplek op die grond.

    Die volgende is definitief nie nodig nie:

    1. Kolligte. Die huidige gier is om vreeslike groot en sterk kolligte te installeer. In Afrika ry jy nie in die donker nie en geen goeie toergids wat sy sout werd is sal jou in die nag laat ry nie. Indien omstandighede wel so sou ontwikkel dat daar vir 'n kort rukkie in die nag gery moet word vanweë 'n nood situasie sal hy die konvooi naby aan mekaar laat ry en die beste roete vir die omstandighede kies. Jou gewone ligte sal dus voldoende wees aangesien selfs volsterkte hoofligte te skerp sal wees vir die voertuig voor jou.
    2. Jou eie ingeboude tweerigtingradio. Toergidse voorsien gewoonlik self radios met antennas wat bo op jou dak van jou voertuig magneties was sit. Die rede hiervoor is dat die tweerigtingradio’s almal gelisensieer moet wees in die spesifieke land waardeur jy ry, om wettig gebruik te mag word. Klein tweerigtingradio’s wat nie 'n lisensie benodig nie is werklik onvoldoende vir 4x4 ry. Moet dus nie geld daarop verkwis nie tensy jy met jou kinders by die kampplek in verbinding wil bly.
    3. 'n Groot swaar staal buffer voor op jou voertuig.
    4. 'n Wenas op jou voertuig.
    5. 'n Ewenaarslot op jou voorste ewenaar.

    Wat ek wel sal aanbeveel is om die aluminium treeplanke aan die kant van jou voertuig tydelik te verwyder want daar is 'n groot kans dat jy hulle op 'n 4x4 roete kan beskadig.


  3. VOERTUIE WAT HOOFSAAKLIK IN SELF GEORGANISEERDE GROEPE REIS.
  4. Gewoonlik is daar een van die persone in die groep wat of reeds baie 4x4 toere onderneem het of selfs vantevore by die plekke waar die groep besoek wil aflê by 'n vorige geleentheid gery het. Hierdie tipe reis moet nie sommer deur 'n groep nuwelinge aangepak word nie.

    Ek sou die volgende minimum opgraderings aanbeveel vir 4x4 voertuie wat in klein toergroepe wil ry en nie saam met toeroperateurs of 'n formele gids nie:

    1. Alles soos in 1.1 tot 1.13 hierbo vermeld.
    2. 'n Banddruk en temperatuur monitering stelsel. Die eerste pap wiel wat jy mag ontwikkel nadat 'n skerp klippie die band gepenetreer het, het vir hierdie stelsel betaal. Indien jy nie so 'n stelsel het nie sal jy jou pap band stukkend ry voordat jy dit agter kom op vandag se 4x4 voertuie. Ek moes hierdie duur skoolgeld weer onlangs betaal toe ons met my nuwe Land Cruiser Namibië besoek het. (Het 'n stelsel gekoop maar nie die tyd gehad om dit te installeer nie.)
    3. Jy mag dit oorweeg om 'n snorkel op jou voertuig te installeer om sodoende die stof wat deur jou voertuig se lugfilter ingesuig word te beperk. Baie mense maak die fout om te dink 'n snorkel word geïnstalleer hoofsaaklik om die voertuig in staat te stel om deur diep water te kan ry.
    4. Installeer 'n stewige staal voorbuffer wat jou voertuig se invalshoek sal verbeter asook 'n wenas kan neem indien nodig.
    5. Verkieslik moet minstens een van die voertuie in die groep 'n wenas geïnstalleer hê.
    6. Los of ingeboude water houers. minstens 2 x 20 liter. Die algemene reël is minstens 5 liter water per person per dag.
    7. 'n Basiese stort fasiliteit wat minimum water sal gebruik.
    8. Iets waarin jy vuurmaak hout kan saamry. Verkieslik bo op jou dakrak. Daar is niks wat jou toerusting en bagasie agter in jou voertuig so sleg kan beskadig as 'n sakkie hout nie, glo my gerus.
    9. Jou eie VHF tweerigtingradio (29 MHz radio kan ook werk maar sy bereik is werklik baie beperk aangesien jy die ander motor moet kan sien en die afstand korter as 500m moet wees) gemonteer in jou voertuig sodat jy of jou passasier dit maklik kan bykom. Gebruik ORRA se frekwensies waar moontlik. Onthou jou radio moet by ORRA geregistreer wees om hulle frekwensies te kan gebruik. ORRA is weer op sy beurt by ICASA geregistreer wat jou 'n wettige radio gebruiker in Suid Afrika maak.
    10. 'n Seil afdakkie (“awning”) wat jy vinnig kan oopmaak vir skadu en soms 'n bietjie reën as jy stop vir ete langs die pad of in die kampterrein as daar nie genoeg skadu is nie. Monteer dit teen jou dakrak sodat jy dit kan afhaal saam met die dakrak aan die einde van jou reis as jy by die huis kom.

    Die volgende is werklik nie nodig nie:

    1. 'n Wenas op jou voertuig.
    2. n Ewenaarslot op jou voorste ewenaar.
    3. Groot en duur kolligte.

  5. VOERTUIE WAT ALLEEN REIS.
  6. Wanneer jy alleen en op afgeleë plekke wil reis verander sake heelwat. Jou en jou passasiers se veiligheid raak nou jou verantwoordelikheid. Meganiese of elektriese probleme met jou voertuig kan ernstige gevolge hê. Verder is vassit in sand of modder of enige situasie waar jou voertuig gebrug is tot die selfde problem lei.

    Ek sal die volgende voorstel:

    1. Maak seker dat jou voertuig die volgehoue slae wat rowwe terrein oor lang afstande kan uitdeel sal kan hanteer. Daar is 'n rede waarom voertuie soos Land Cruisers en Nissan Patrols so groot en swaar is. Kyk maar na hul onderstelle en die minimum toerusting soos ewenaarslotte voor en agter.
    2. Lig jou voertuig met 'n volledige nuwe suspensie om sodoende meer vryhoogte te verkry, en jou inval en uitval hoeke te verbeter asook jou voertuig se oorbruggingshoek te verbeter.
    3. Maak seker dat jou voertuig se agterste vere wel die gewig kan dra wat jy beplan om saam te ry. Indien nie, versterk die agterste vere of installeer pneumatiese lugkussings tussen jou voertuig se ewenaar en die onderstel. Hierdie lugkussings kan na wense opgepomp word om jou voertuig gelyk te kry en om te help om die ekstra gewig te kan dra.
    4. Dikwand staal skerm pype onder langs jou voertuig (“rock sliders”) om jou voertuig teen skerp rotse langs die kant te beskerm.
    5. 'n Wenas word nou baie belangrik.
    6. 'n Tweede inlyn diesel filter indien jou voertuig diesel gebruik. Die diesel hoër op in Afrika is nie altyd so skoon nie en kan ook water bevat.
    7. 12V na 220V omskakelaar met 'n minimum kapasiteit van 800W kontinue lewering.
    8. 'n Opblaasbare lugsak wat as domkrag gebruik kan word in plaas van 'n hoë lig domkrag. In nat situasies of sand sak 'n domkrag met basis plaat maklik weg, waar 'n lugkussing wat deur jou motor se uitlaatgas opgepomp word 'n groter oppervlak het om teen te druk.
    9. Ingeboude water tenks. Gewoonlik is daar 'n aparte tenk vir drinkwater en stort- of waswater. Laasgenoemde kan uit enige bron gevul word maar drinkwater en water wat vir ys of kos maak gebruik word, moet skoon en gesuiwer wees.
    10. Genoegsame ligte buite om of op jou voertuig om jou kampeer plek te kan verlig in die aand as jy nog buite is. Ek sal graag 'n leeu of 'n hyena se oë wil sien blink lank voordat hy hier langs my kom staan.

  7. WAT HET JY NIE WERKLIK NODIG NIE:

    1. Enige iets wat net addisionele gewig bysit en geensins funksioneel is nie of wat oortollig blyk te wees op vorige reise.

Laaste Bywerking: 2013/12/19

Flag Counter