KRY JOU VOERTUIG GEREED

Die belangrikste taak voordat jy die pad vat is om te verseker dat jou voertuig in tip top kondisie is. As jy enigsins oor iets sou wonder gaan dit eerder deeglik na. As jy dan nog nie 100% seker is of iets wel reg is nie, en die gedagte kom by jou op om dit nou vir eers te ignoreer maar definitief voor die volgende rit na hierdie een , daarvan werk te maak, dan kan ek jou verseker gaan hierdie item jou hard byt op hierdie rit en nie die volgende een nie!

Noodherstelwerk in die Hartmann’s Vallei.

Hierdie was nie Steven se fout nie, maar ‘n Mercedes agentskap wat nie sy sout werd was nie, se skuld. Steven het by hulle bly kla oor ‘n klap geluid links voor by die suspensie. Al wat hulle gedoen het was om die suspensie boute elke keer stywer te draai. Die gevolg was dat die suspensie boute deur die onderraam van die voertuig gevreet het omdat daar nie wassers tussen die boutkoppe en die onderstel was nie. Hulle moes per ongeluk by ‘n vorige diens toe hulle ook aan die suspensie gewerk het, nagelaat het om dit terug te sit. Dit het ons 4 uur geneem om die voertuig sodanig reg te kry dat ons tot by Marble Camp kon vorder waar ons oornag het. Ons moes die beskadigde M12 hoë treksterkte staalboute met ‘n saaglemmetjie wat ons in die hand moes vashou en met ‘n saag aksie van ongeveer 40mm vanweë ‘n spasie probleem, afsaag. Ek en Steven het so om die beurt gesaag. Gelukkig het ek ‘n stel boute wat lank genoeg was asook wassers en moere en natuurlik die nodige ystersaaglemmetjies in my spaaronderdelekrat gehad. Ons moes ook ‘n paar groot wassers vir ‘n ander deel van die herstel van die motor self af leen. (‘n Boer maak ‘n plan.)

MY VOERTUIG VERSIENINGS ROETINE IS AS VOLG:


  1. DIENS VAN JOU VOERTUIG VOOR ‘N REIS

    1. Maak eers seker of jy nie dalk die voertuig durende die reis ook moet diens nie. Gaan die odometer en motor se diensboekie na en indien jy die tussendienstydperk met meer as 1500km gaan oorskry, bepaal dan eerder waar jy jou voertuig op die reis ook sal kan diens. Maak vroegtydig ‘n tentatiewe afspraak by hulle en tel ‘n dag by jou beoogde vakansie by.
    2. Verder laat ek die voertuig diens 3-4 weke voordat ons wil ry. Dit gee genoeg tyd om vas te stel of die diens volledig gedoen was en of niks nagelaat was of los is nie. Ry dus een of twee keer iewers heen met die voertuig, nee, nie kafee toe nie, dit is te naby, probeer iewers verder , oorweeg selfs ‘n vinnige naweek uitstappie.
    3. Indien jou voertuig nog ‘n diensplan het neem hom dan vir sy diens by ‘n agentskap waarin jy vertroue het. (Glad nie maklik te kry nie. Vra rond onder jou vriende.) Indien jy nie meer ‘n diensplan het nie, soek iemand wat jy werklik kan vertrou en wat jou tipe voertuig goed ken, om jou motor te diens. Hou by een persoon sodat hy ‘n volle prentjie van jou voertuig se dienste, breuke en skete kan vorm.
    4. Wanneer ek die voertuig in neem vir diens, gee ek die werkswinkel voorman of deesdae jou sogenaamde dienskonsultant, ‘n lysie met items wat ek wil hê hulle moet addisioneel nagaan en wanneer hulle dit nagaan moet hulle dit aftik op die lysie. Hierdie lysie moet saam met my rekening terugbesorg word. Ek is ook bereid om een uur se werkswinkel tyd ekstra te betaal vir hierdie addisionele ondersoek / nagaan van hierdie ekstra items. Ek verwag dat die werktuigkundige of werkswinkelbestuurder die lys sal afteken. (Sien aangehegte voorbeeld)


    5. Maak seker jou diens is aangeteken in jou motor se diensrekord.
    6. Indien jou voertuig ‘n bietjie ouer is en jy verkies om hom nie by die agentskap self te laat diens nie, vind ‘n baie betroubare alternatief wat hoog deur ander aanbeveel word wat dieselfde voertuig as jy ry. Bou ‘n verhouding met die diensspan op.

  2. VOORBEREIDING VAN VOERTUIG VOOR ‘N REIS
  3. Met jou voertuig gediens begin jou voorbereiding van jou voertuig vir die lang reis nou eers. Ek gebruik ‘n Inspeksielys om my te help met hierdie taak. Vind aangeheg ‘n PDF of MS Excel lêer hierby aangeheg deur op enige van die opsies hier onder te kliek. Hierdie lys MOET jy self deur werk want jy is vir jou eie voertuig se welstand verantwoordelik, moet dit dus nie vir iemand anders gee om dit namens jou te doen nie!

    1. INSPEKSIELYS.PDF
    2. INSPEKSIELYS.xlsx

  4. DIE VULSTASIE INSPEKSIE
  5. Ek weet jy het al baie van die take hieronder al reeds in 2, hierbo uitgevoer, maar maak maar dubbel seker, jy het die tyd want jy moet mos wag vir die pompjoggie om daardie groot brandstoftenks vol te kry en dit neem mos tyd:

    Onthou om die volgende weer na te gaan wanneer jy ,net voor jou reis begin, die voertuig vol brandstof gaan maak:

    1. Gaan die banddruk na. Ek het al geleer dat die drukmeter op die vulstasie se lugpyp nie akkuraat is nie en bevestig die banddruk met my eie los banddrukmeter wat ek in my paneelkassie hou.
    2. Onthou om ook jou TWEE spaarwiele se banddruk na te gaan.
    3. Indien jy ‘n banddruk monitorstelsel op het, onthou dat die stelsel 0.2 bar gewoonlik laer lees as die werklike druk in die band.
    4. Onthou ook daar is ‘n verskil in banddruk wanneer jou bande koud is en wanneer dit warm gery is. Die druk in ‘n koue band is ongeveer 0.3 bar laer as in ‘n warm geryde band. Jou spaarwiel se banddruk sal dus 0.3 bar laer lees, maar vir veiligheid pomp ek my spaarwiele dieselfde waarde as my warm geryde bande. Jy kan altyd die druk in ‘n spaarwiel laat sak indien jy hom moet op sit maar om ‘n effense papwiel te ry is om vir moeilikheid te vra.
    5. Maak seker jou ruitveërs se rubbers is nog in ‘n goeie toestand. Die handelaar waar jy jou voertuig gediens het sal gewoonlik nie die moeite doen om dit na te gaan nie.
    6. Maak die enjinkap oop, gaan die olie vlak in die enjin na, maak seker die remvloeistof vlak is reg en maak seker die watervlak in die verkoeler is reg.
    7. Maak die ruitwas waterbottel vol indien nodig.
    8. Indien jy nie ‘n geseëlde battery het nie, gaan die watervlak in elke sel na. Vul elke sel met gedistilleerde water tot net bo die loodplate in die battery.
    9. Laaste taak, maak seker jou brandstoftenk se prop is behoorlik op en dat dit gesluit is. Nou kan jy huiswaarts keer wetende dat alles reg is vir die reis. Al wat oorbly is die pak van die voertuig. (Onthou om die totale gewig van jou voertuig dop te hou, dit sluit die brandstof wat jy ingegooi het asook addisionele petrol en drinkwater wat jy saamry in. Hoe ligter hoe beter! )

  6. WAS EN NAGAAN VAN VOERTUIG NA ‘N REIS

    1. Eerstens laat ek die voertuig deeglik was sodra ons terug kom van ‘n toer of selfs korter kuier. Deeglik beteken, binne, buite, die onderstel en die enjin en die enjin kompartement. Dit verseker dat alle stof, modder of soutwater onder die voertuig uitgewas is en roes dus nie saggies te werk kan gaan as jy gaan slaap nie.
    2. Terwyl die voertuig so lekker skoon is klim ek onder hom in en maak seker als is nog reg en maak ook sommer seker dat daar geen krake ontstaan op die onderstel, brandstof tank draers, wiel en skokbreker hegpunte nie. Ondersoek ook sommer die enjin en ratkaste se vashegtingspunte.
    3. Ek maak ook seker dat my bande se druk korrek is vir algemene teerpad ry en dat ek nie dalk vergeet het om hulle behoorlik te pomp nadat ek dit effens afgeblaas het vir ‘n sagter rygerief op ‘n sinkplaat grondpad byvoorbeeld nie.
    4. Indien die voertuig nie daagliks gebruik word nie, ontkoppel die positiewe pool van jou battery en maak seker hy raak nie aan die bak of die battery se pool nie. Ek het ‘n stukkie rubbermat wat ek oor die battery sit tussen die enjinkap en die battery. Ek het ook by die firma waar ek altyd my voertuie se batterye vervang ‘n plastiese prop gekry wat oor die positiewe pool pas, wat ek dan ook op die battery se positiewe pool sit. Wanneer ek ry sit ek altyd die prop in my paneelkassie.
    5. Die beste battery instandhoudings- filosofie vir ‘n battery wat lank moet staan is om ‘n intelligente batterylaaier permanent op die battery te konnekteer terwyl hy staan. EK persoonlik gebruik ‘n CTEK MXS 7.0. Jy kan sover gaan as om selfs nie die battery in so ‘n geval te ontkoppel nie.


      Jou CTEK laaier kom met ‘n kort los kabel (onder op die foto bo) wat jy permanent op jou voertuig se battery pole kan koppel en dan kan jy net die batterylaaier vinnig weer aan hierdie kabel koppel met ‘n veilige konneksie punt. Die tweede stel kabels bo in die foto ry ek in my paneel kassie saam as ek iemand anders se battery dalk moet laai by ‘n kampeerplek met krag.

Laaste Bywerking: 2014/02/17

Flag Counter