HOE BEPLAN EK 'N REIS

1. INLEIDING


Daar is verskeie maniere om 'n wonderlike 4x4 reis te onderneem. Die meeste mense verkies om met 'n georganiseerde groep so 'n reis aan te pak. Die voordele is dat jy niks hoef te beplan nie behalwe om te verseker dat jou voertuig gediens is en in 'n puik toestand is. (Jy is dit aan die ander voertuie in die konvooi verskuldig. Want sou jou voertuig onklaar raak, hou die reis vir die ander lede ook op totdat jy weer mobiel is en almal weer saam onder weg kan wees.) Verder voorsien baie toer groepe ook etes (gewoonlik ontbyt en aandetes) en moet jy net jou eie slaapplek en slaapgoed saam neem. Ander toeroperateurs voorsien weer alle etes asook slaapplek in tente wat hul vir jou opslaan of wat jy soms self moet opslaan. Sommige groepe oornag weer in deftige gastehuise of hotelle (“lodges”) langs die roete. Die nadeel is dat jy in groepe van tussen 10 en 24 voertuie saam in een konvooi ry. Jy kan dus nie vinnig stop en 'n foto neem soos dit jou pas nie want die ander in die konvooi sal gou ongelukkig raak. Verder ry jy saam met 'n groep mense wat jy nog nie vantevore ontmoet het nie en waarvan die waardestelsels hemelsbreed van joune mag verskil. Verder moet jy daarvan hou om nuwe mense te ontmoet en gemaklik in 'n groep in te skakel. Introverte doen gewoonlik nie goed op so 'n toer nie, maar aan die anderkant mag jy die wonderlikste vriende so ontmoet. 'n Tweede manier van reis is om saam met 'n kleiner groep, 2-4 motors (3 is ideaal), goeie vriende wat mekaar goed ken en verstaan, saam te reis en saam kamp op te slaan. Vir die meeste beteken dit ook dat jy vir jouself of soms per geleentheid vir die groep moet ete voorberei. Dit is baie maklik om onderlinge reëls te maak en soms vinnig te stop vir 'n foto veral as die groep met tweerigtingradio's in verbinding met mekaar is. Hier moet iemand die verantwoordelikheid neem om die toer te reël en indien nodig die nodige besprekings namens die groep te doen. Die groep se veiligheid word dan ook sy verantwoordelikheid. 'n Derde wyse is om alleen te ry. Iets wat ek nie sal aanraai vir persone wat nog nie baie met sy 4x4 gereis het nie en wat ook nog nie 'n self herwinningskursus bygewoon het nie. Dit is baie belangrik om deeglik voor te berei en seker te maak dat jy al die nodige veiligheidstoerusting aan boord het asook die nodige veiligheidsreëlings getref het. Jou voertuig moet volledig self onderhoudend wees t.o.v. water en proviand, minstens toegerus wees met 'n wenas, 'n hoë lig domkrag (“high lift jack”), sandlere en al die nodige herwinningstoerusting wat jy mag nodig kry. ’n Satellietfoon is ononderhandelbaar en moet in 'n goeie werkende toestand wees en met genoeg lugtyd op (minstens 60 minute vir noodoproepe alleen). Laai en toets die foon voordat jy ry. Maak seker jy weet hoe hy werk. Daar is 'n baie ou 4x4 leuse wat lui “as jy alleen ry , sterf jy alleen”, en waarvan daar meer as een voorbeeld van in die literatuur te vinde is. Die voordeel is dat jy vry is om te maak soos jy wil, planne te wysig, langer oor te staan op 'n plek, foto's te neem soos dit jou pas, ens., maar dit kan eensaam raak vir ekstroverte wat graag mense om hulle wil hê.

2. WAAR BEGIN JY

Waar begin 'n mens om 'n 4x4 reis te beplan? Daar is soveel fasette wat aandag moet kry, naamlik:
  1. Eerstens die roete wat jy graag sal wil ry en die plekke wat jy graag op die roete wil besoek.
  2. Is daar enige gevare, moontlike bedreigings of risiko's wat jy in gedagte moet hou op hierdie roete.
  3. Waar gaan jy oornag.
  4. Waar gaan jy brandstof kry en hoe beskikbaar is die tipe brandstof wat jou voertuig gebruik.
  5. Die voorbereiding van jou voertuig.
  6. Voorbereiding t.o.v. kos , water en drinkgoed.
  7. Ablusiegeriewe, is daar fasiliteite of moet jy die nodige saam neem ?
  8. Koste berekening (wat gaan dit jou kos).
  9. Visa vereistes.
  10. Mediese vereistes. (Is malaria voorkomende medikasie nodig , word geelkoors inspuitings verlang, ens. reëlings met jou mediese fonds sodat jy genoeg van jou kroniese medikasie beskikbaar het vir die duur van die vakansie)
  11. Jou voertuig se noodhulp tas, brandblussers en nood toerusting soos weerkaatsende driehoeke, glim baadjies, ens.
  12. Maak seker jou mediese fonds sal jou dek buite die landsgrense en indien nodig dat hul jou en jou familielede sal uitvlieg terug Suid Afrika toe vir nood behandeling. Stel hul ook in kennis wanneer jy buite die land se grense sal wees.
  13. Geldige paspoorte (die tydperk voordat jou paspoort verval mag nie korter as ses maande wees wanneer jy enige van die lande wat jy wil besoek binne gaan nie.)
  14. Die nodige doeane dokumentasie om jou voertuig in en uit die land te kan neem, asook ander landsgrense te kan oorsteek indien nodig ('n grensklaringsbrief van jou voertuigfinansierder (BANK) of indien die voertuig aan 'n maatskappy behoort, van die CEO van die maatskappy, SA polisie klaring vir reise in Zimbabwe, 'n Carnet de Passage vir reise in Oos en Wes Afrika dit wil sê nie SADEC lande nie, ens.)
  15. Derdepartyversekering soos vereis deur afsonderlike lande wat jy besoek.
  16. Het jou voertuig al die plakkers op soos vereis, ZA-plakkers agter op voertuig, ens.
  17. Maak seker jou motor versekering dek jou voertuig buite die land se grense asook op ongebaande weë (4x4 roetes) en stel hul in kennis wanneer jy buite die land se grense sal wees.
  18. Kommunikasie tussen mekaar (tweerigtingradio's) of na buite (satellietfoon).
  19. Basiese gereedskap en onderdele wat moet saam.
  20. 'n Lys van noodnommers wat jy mag nodig kry sou iets gebeur tydens die reis.
  21. 'n Lys van elektroniese en duur toerusting wat jy uit die land wil neem en weer sal wil terug bring. (Items soos skootrekenaars, fotografiese toerusting, ens.)

TEN SLOTTE as jy dink jy het alles hierbo gedoen, maak seker jy het ook 'n goeie Plan B, sou enige iets verkeerd loop op die reis

3. HOE BEGIN EK

Begin deur te besluit waarheen julle wil gaan, vir hoe lank en wanneer almal verlof kan kry. Gebruik dit as jou basis vir jou beplanning.

Stel dan 'n lys op van al die hoof attraksies van die omgewing waardeur en waarna jy wil reis. Groepeer hierdie plekke geografies sodat wanneer jy jou reis beplan jy dan meer as een van die plekke by die reisplan kan insluit. As voorbeeld; om van Pretoria na die Noordwes-Kaap te ry kos baie vanweë die afstand en brandstof pryse, verder neem die reis na ons hoof bestemming ook heelwat tyd in beslag. Dit sal dus 'n goeie besluit wees om terwyl jy in Augustus in Namakwaland blomme wil gaan kyk, jy miskien eers oorslaap by Augrabies NP, die volgende oggend die park self verken en dan later die Richtersveld NP besoek of selfs die De Beers Skeepswrak roete, 'n eendag roete, by die res van die reisprogram in te sluit.

Stel dan 'n lys op van al die besienswaardighede, dorpe, plekke en parke wat jy graag sal wil besoek op die roete. Neem dan hierdie lys en begin om so veel as moontlik inligting oor hierdie besienswaardighede, naby geleë slaapplek en enige ander inligting wat jy dalk mag nodig kry soos hek tye, ens. op die internet of in tydskrifte soos die Weg, Wegry, Getaway, Leisure Wheels, SA4x4 ensovoorts te kry. Probeer om soveel reisverslae as moontlik op die internet op te spoor en te lees. Let op watter tyd van die jaar die skrywer die reis onderneem het en stel vas of dit dieselfde tydgleuf is wanneer jy jou reis wil onderneem. Toestande mag drasties verskil gedurende die jaar. Moremi in Botswana is gewoonlik tussen Februarie en Mei gedeeltelik onder water wat vas sit en diep water kruisings 'n werklikheid maak, terwyl van Junie tot Oktober dit droog is en jy gemaklik daar kan ry. Die roetes mag dan weer baie sanderig wees. Verder is dit weer van Oktober to Februarie baie warm en bedompig.

Skaf so gou moontlik vir jou 'n GPS aan wat kaarte sowel as roetes kan oplaai. Die volgende wat jy benodig is natuurlik die alom bekende Tracks for Africa (T4A) kaart stel.

Deur van MapSource of Basecamp wat gratis vanaf GARMIN beskikbaar is, gebruik te maak, kan jy T4A op jou rekenaar laai en begin om jou roete te beplan. Begin deur al die plekke wat jy graag wil besoek met 'n vlaggie of enige ander simbool op die kaart te merk. Begin dan om jou roete soos wat jy dink jy dit wil ry daarop te plaas.

My lysie van simbole en hul betekenis vir ons word hieronder gelys. Jou lysie mag anders daaruit sien.

Ons roetesimbole en hul betekenis vir ons

Die onderstaande figuur is 'n voorbeeld van 'n volledige roete uitgelê soos ons beoog het om dit te ry in Mei 2013.

Ons roete soos beplan vir ons Namibiese reis in Mei 2013

Die volgende stap is om hierdie roete nou weer op te breek in kleiner stukke gelykstaande aan dit wat jy op 'n enkel dag kan ry. Onthou om tyd in te reken vir besoeke aan besienswaardighede, inkope indien nodig, die ingooi van brandstof ens. Pad toestande sal bepaal hoe vinnig jy 'n spesifieke roete sal kan aflê. Moet nooit die afstand onderskat nie, onthou jy mag 'n pap wiel kry of 'n verkeerde afdraai neem, so los 'n bietjie grasie. Dit is belangrik om NOOIT na sonsondergang in AFRIKA te ry nie. Ons is bederf met heinings langs ons paaie wat diere van ons paaie af hou (die uitsondering hier is natuurlik die Wildekus en die ou Transkei en Ciskei as ook dele van Noord Zululand). Verder is ons paaie oor die algemeen nie te sleg nie met uitsondering van 'n paar paaie met slaggate en natuurlik die mees gehate STOP/RY stelsel by baie van ons padwerke. Hier kan baie tyd verkwis word. Neem dit ook in aanmerking.

Die donker pers lyn is die roete vir een dag op genoemde toer. Ry van Canon Roadhouse Kampterrein na Visrivier Canyon uitkyk punte en daarna die Plaas Koimasis se kampterrein via Bethanie met sy mooi kerkie en deur die Tirasberg Bewaringsgebied.

Itereer bogenoemde roetes tot dat jy gemaklik is dat dit in die tydsraamwerk val, wat jy daar gestel het.

Die volgende stap is om seker te maak dat aan die einde van elke dag, ek 'n goeie en veilige staanplek het. Weereens lees soveel op as moontlik sodat jy weet wat die omstandighede sal wees en lig almal voor die tyd in sodat niemand vir jou kwaad is nie. Op lang reise poog ons om elke tweede week minstens vir 'n dag of twee by 'n gastehuis of hotel oor te bly om net weer die wasgoed op datum te kry, 'n bietjie te ontspan en vroulief weer aan jou kant te kry.

Met my daaglikse roetes vasgelê, druk ek 'n papierkopie van elke dag se roete met 'n vergroting op plekke waar ek meer detail benodig. Hierdie daaglikse roetekaarte bind ek in 'n boekie. Verder maak ek 'n elektroniese kopie van elke dag se roete wat ek op my skootrekenaar of netboek stoor en dan soos nodig aflaai op my GPS. (Onthou net jou GPS se sagteware moet voor die tyd via hierdie spesifieke rekenaar by die verskaffer geregistreer wees anders kan jy nie roetes tussen jou rekenaar en GPS aflaai of oplaai nie.)

'n Tipiese vergrote kaart van die onderskeie uitkykpunte by die Visrivier Canyon wat ons graag sou wou besoek. Natuurlik in die geval gemerk met 'n prentjie van 'n kamera en ons slaapplek wanneer ons kampeer met 'n tent.

My volgende stap is om 'n rekenaar spreivel op te stel met die volgende inligting daarop:

  1. Die dag en datum
  2. Van waar ons beoog om te ry
  3. Waarheen ons op pad is
  4. Watter roete ons gaan volg
  5. Die besienswaardighede langs die pad
  6. Waar ons die nag gaan slaap met 'n kontak nommer van die kampterrein of nasionale park se kantoor
  7. Waar en wanneer moet ons brandstof in neem(Laas genoemde sal verskil van plek tot plek. Indien jy nie seker is dat jy brandstof by 'n spesifieke punt kan kry nie, neem addisionele brandstof kanne saam met brandstof of maak vroeër vol al het jy meer as 'n halwe tenk brandstof oor.)
  8. Watter soort pad toestande tussen bakens, soos in (d.) hierbo gelys, te wagte kan wees (teer, grond,tweespoor, baie stowwerig, diep sand, met water kruisings, ensovoorts)
  9. Die afstande tussen die bakens soos in (d.) hierbo gelys
  10. Die totale afstand vir die dag
  11. En dan ten slotte waar brandstof langs die roete beskikbaar is

Hierdie dokument gebruik ek saam met my kaarte op die reis en laat ek een kopie agter by vriende of familie sodat iemand naastenby sal weet waar om na ons te soek sou iets ernstigs met ons of by die huis gebeur.
'n Voorbeeld van 'n deel van die bovermelde spreivel wat die dagreis vanaf Canon Roadhouse kampterrein na die Plaas Koimasis se kampterrein via die Visrivier Canyon dek.

Die insetsel hierbo is 'n opsommende spreivel met datums, plekke waar ons sou verwag om te slaap elke aand op die reis en hul telefoon nommers wat ons ook voorberei en by familie of vriende laat voor ons ry.

Bogenoemde beplanning is vir my net so lekker as die reis self en ek geniet elke oomblik daarvan aangesien dit in sigself ook 'n ondekkingsreis is. Maak seker jy laat genoeg tyd vir jou beplanning.

Ja ek weet daar is baie mense wat eenvoudig net in hul voertuig klim en ry waar hul neuse hul lei. Die algemene rigting is gewoonlik darem bekend. Die hartseer is dat sulke mense baie van die mooi dinge mis terwyl hulle in die omgewing is, omdat hulle net nie daarvan geweet het nie. Ek wil ook nie graag in die gramadoelas wil gaan staan sonder brandstof nie, net omdat ek nie beplan en voorsiening gemaak het nie en sodoende 'n dag of twee op my reis moet verloor nie.

TEN SLOTTE, ONTHOU JOU EN JOU REISGENOTE SE VEILIGHEID IS IN JOU HANDE, BEPLAN DUS DEEGLIK!

Laaste Bywerking: 2013/12/18

Flag Counter