GRENSKRUISINGS

Ek is van nature ongelukkig nie 'n baie geduldige persoon nie. My leuse vir baie jare was; “ Ek wag nie vir iets om te gebeur nie, ek maak dit gebeur” , maar oor die afgelope paar jaar moes ek geduld aanleer want dit is al wat jou vining en suksesvol deur grensposte kry. Gelukkig as jy met jou 4x4 op reis is maak tyd ook nie regtig soveel saak nie. Die lekker is in die reis met sy wedervaringe en nie so seer in die bestemming as sulks nie. Beplan dus net jou dag goed en maak ruim voorsiening vir die tyd wat jy mag verlore by grensposte. Indien sake vinniger verloop as verwag is dit tot jou voordeel en niemand is gespanne omdat daar nie genoeg tyd is om die afstand na vanaand se slaapplek wat nog ver is, af te lê nie.

Ek het hierdie foto geneem voordat ek geweet het dat jy liefs nie van grensposte foto’s moet neem nie. Gelukkig het ek die keer nie in die moeilikheid beland nie. Hermien was eenkeer in die moeilikheid deur dat sy 'n kamera op haar skoot vasgehou het toe ons deur die Suid Afrikaanse kant van Martinsdrif / Groblersbrug grenspos die land weer wou binne kom. Die polisiebeampte wat vir oulaas seker maak alles is reg voor jy die grenspos verlaat het 'n kamera op haar skoot raak gesien en was baie ongelukkig daaroor. Eers na 'n lang verduideliking dat Hermien net die kamera van voertuig se vloer af opgetel het en dit op haar skoot gesit het toe ons weer ingeklim het nadat ons die grensformaliteite afgehandel het, het hy dit so aanvaar. Ons moes ook aan hom die laaste foto’s wat ons met die kamera geneem het wys, om te bewys dat ons geen foto’s van die grenspos geneem het nie. As ons dieselfde by 'n ander land se grenspos oorgekom het kon dinge dalk baie anders verloop het, so wees versigtig. GEEN KAMERAS OF FOTO’S by 'n grenspos nie asseblief !!

Ons het die volgende lesse oor Grensposte die afgelope sewe jaar geleer:
  1. Vermy grensposte met 'n reputasie, soos byvoorbeeld Beitbrug tussen Suid Afrika en Zimbabwe en Tunduma tussen Tanzania en Zambia.
  2. Beplan jou reis deur kleiner grensposte. Hier is almal bly om jou te sien en die diens gewoonlik ook nie te sleg nie.
  3. Wees altyd vriendelik, groet beleefd. Moet nooit snedige aanmerkings in jou eie taal maak nie, dalk verstaan iemand jou of ontstaan daar dalk 'n misverstand oor wat die person dink jy gesê het.
  4. Moet onder geen omstandighede ongeduldig word nie al staan jy al byna 'n uur en wag en dit lyk nie of dinge vorder nie (sjoe dit is maar baie moeilik vir my), want dit is net wanneer dinge skeef loop. Gou is daar woorde en dan skop Afrika se houding in. Die beamptes sal of met jou goed begin sloer, of daarmee fout vind, of jou net eenvoudig ignoreer, of summier weier om jou tot hul land toe te laat en hy het die volle reg om dit te doen. Byt net op jou tande en dink aan die lekker koue bier van vanaand of so iets.
  5. Sorg dat jy al die regte dokumente vir jou voertuig byderhand het, netjies agter mekaar.


  6. Ek het vir elke voertuig sy eie paspoort gemaak, 'n FlipFile met die volgende inhoud:
    1. 'n Gewaarmerkte afskrif van my motor se “MOTORVOERTUIG LISENSIE EN LISENSIESKYFIE” vorm , vorm MVL1 voordat ek die skyfie uitsny.
    2. 'n gewaarmerkte kopie van my voertuig se “SERTIFIKAAT VAN REGISTRASIE TEN OPSIGTE VAN MOTORVOERTUIG” vorm, vorm RC1.
    3. 'n Suid Afrikaanse Polisie “PRIVAAT VOERTUIG KLARING SERTIFIKAAT “ vir wanneer ek lande soos Zimbabwe moet besoek. Party keer kry jy dit ook nodig in Zambia.
    4. Brief van my motor finansieringsmaatskappy wat my toestemming gee om die voertuig buite die land se grens te neem. Op hierdie brief moet die bestuurder se naam, ID. No., die tipe voertuig en sy fabrikaat, engine no., onderstel no. asook registrasie no. verskyn. Daar moet ook staan watter lande jy gaan besoek en van wanneer tot wanneer jy uit die land sal wees. Maak seker dat jy minstens 'n week of twee langer tydperk op hierdie dokument spesifiseer as wat jy werklik beoog om te bly, want as iets gebeur en jy is langer in die buiteland mag jy dalk probleme by die grens optel. Dit gesê, ons het nog nie eenkeer hierdie brief nodig gehad nie maar as jy die verkeerde amptenaar raakloop en jy het dit nie mag die dag lank word.
    5. Die volgende is 'n brief van die versekering met weereens dieselfde inligting as in (d.) hierbo behalwe dat dit ook meld dat jou voertuig wel vir die tydperk wat jy in die buiteland is in die lande wat jy besoek verseker sal wees. (Gewoonlik het jy hierdie brief van jou versekeraar nodig om die brief by jou voertuigfinansierder te kan kry.) Maak seker jy begin minstens ses werksdae voor jou reis met aansoek vir hierdie dokumente want almal het 'n dag of twee nodig om dit uit te reik. Jy moet ook 'n afskrif van jou ID en bestuurslisensie stuur wanneer jy aansoek doen.
    6. 'n kopie van my versekeringspolis met voorwaardes, kontaknommers en bybetalings skedule.
    7. 'n Afskrif van my “Veridot DNA for Assets” sertifikaat (Microdot sertifikaat). Alle nuwe voertuie moet nou 'n Microdot identifikasie kry. Dit is 'n identifikasie nommer wat hul oral op jou voertuig spuit wat jy slegs met ultravioletlig kan sien.
    8. Bewys van my lidmaatskap van die Land Cruiser Klub van Suider Afrika (LCCSA) en magtiging om hul VHF radio frekwensies te mag gebruik, d.w.s. 'n brief met die VHF radio in jou voertuig se inligting op en LCCSA se radio lisensie details ook daarop. Om so 'n brief te bekom moet jy 'n opbetaalde lid van die LCCSA wees.
    9. 'n Afskrif van my ORRA (Off-Road Radio Association) lidmaatskap wat bevestig dat ek ook hulle VHF radio frekwensies mag gebruik. Om hierdie brief te kry moet jy wanneer jy aansoek doen 'n brief van een van die erkende 4x4 klub in Suid Afrika saam stuur wat bevestig dat jy 'n opbetaalde lid van daardie klub is. Sonder so 'n brief kry jy geen lidmaatskap van ORRA nie.http://www.orra.co.za/index.html
      Waarom al die moeite doen; want dit is onwettig om 'n VHF radio in jou voertuig te hê sonder 'n goedgekeurde lisensie vanaf ICASSA. Let ook daarop dat hierdie lisensies net in Suid Afrika geldig is en jy vir elke land waar jy wil toer 'n gastelisensie vir jou radio moet kry.)
    10. 'n Gewaarmerkte afskrif van my Paspoort.
    11. 'n Gewaarmerkte afskrif van my ID Dokument.
    12. 'n Gewaarmerkte afskrif van my rybewys.
    13. 'n Gewaarmerkte afskrif van my geelkoors immunisering sertifikaat.
    14. 'n Gewaarmerkte afskrif van Hermien se Paspoort.
    15. 'n Gewaarmerkte afskrif van Hermien se ID Dokument.
    16. 'n Gewaarmerkte afskrif van Hermien se rybewys.
    17. 'n Gewaarmerkte afskrif van haar geelkoors immunisering sertifikaat.
    18. Ten slotte 'n lys van al die waardevolle items wat ons uit die land neem soos ons kameras, lense , skootrekenaar en GPS’se, ensovoorts.
    19. Ek hou ook gewoonlik die heel eerste sakkie in my lêer oop vir die padbelasting en derdeparty versekering kwitansies wat jy by die grenspos waar jy ingaan kry en dan gewoonlik moet toon wanneer jy uitgaan. Soms vra hul hiervoor ook by padblokkades.
  7. Jy benodig ook 'n Carnet de Passages wanneer jy buite die SADEC lande reis. Lande soos Kenia laat jou nie eens toe om hul land in te kom daar sonder nie. Lande wat nie 'n Carnet de Passages vereis nie uit ondervinding is Angola, Botswana, Lesotho, Mosambiek, Namibië, Swaziland en Zimbabwe. Selfs by die kleinste grensposte in Oos-Afrika weet doeane amptenare hoe om 'n Carnet de Passages in te vul en te stempel. Dit maak die in en uitvoer van jou voertuig in hierdie lande aansienlik makliker en natuurlik baie vinniger. Meer inligting kan op die webblad van die AA verkry word. http://www.aa.co.za/travel/into-africa/carnet-requirements-pricing.html
  8. Waar moet ek aanmeld by 'n grenspos?
    1. Altyd eerste by immigrasie.
    2. Daarna by die doeane afdeling vir jou voertuig.
    3. Pad belasting en of derdeparty versekering kassiere.
    4. En in sommige lande by die polisie daar by die grenspos self.
  9. Ons het al geleer indien jy nie seker is nie vra die person wat jou so pas gehelp het, baie vriendelik en beleefd waarheen jy volgende moet gaan en waar die spesifieke kantoor geleë is. Onthou daar is gewoonlik geen aanwysings nie en daar is ook geen logika van hoe die proses werk nie, als deel van 'n dag se opwinding in Afrika.
  10. Vermy sogenaamde “Runners”, hulle vorm 'n groot deel van die korrupsie wat by grensposte plaasvind. Ja jy mag dalk vinniger deur die grenspos kom maar gewoonlik teen 'n redelike stywe prys wat nie ten volle aan jou bekend is voor die tyd nie. 'n Groot deel van die geld wat jy hulle betaal word hoofsaaklik gebruik om amptenare om te koop.
  11. Oor geldwissel by grensposte wil ek my self vir eers nie uitlaat nie. Ek sal later daaroor iets skryf. In sommige lande is dit onwettig en kan jy gearresteer word. So wees versigtig en doen jou huiswerk goed voor die tyd.

Meer inligting oor grensposte en wat jy benodig per land in Afrika.

In die WEGRY of DRIVE-OUT van Jan/Feb 2011 (No. 24) was daar 'n besondere artikel oor grensposte en wat jy benodig om die meeste lande in Afrika te kan binne gaan met jou voertuig. Ek sluit 'n kopie van hierdie artikel hierby in aangesien toegang deur middel van die internet nie beskikbaar is nie en die eksemplaar reeds lankal van die rak is. WEGRY-GRENSPOS (PDF)
'n Spesiale woord van dank aan die skrywers van hierdie artikel en Media24. (WEGRY / Drive OUT bly een van die beste tydskrifte vir die 4x4 reisiger.)

'n Tweede bron van inligting oor wat benodig word vir elke land in Afrika wat jy graag sou wou besoek, kan jy gerus na die AA se webblad gaan by:

http://www.aa.co.za/travel/into-africa/
http://www.aa.co.za/travel/into-africa/cross-border-information.html

Daar is ook 'n ander belangrike webblad wat redelik gereeld opgedateer word van CBC (Canadian Broadcasting Corporation ) wat reisigers op hoogte hou van watter lande in die wêreld liefs vermy moet word wanneer jy reis. Hieronder is die kaart ten tye van die skryf van hierdie artikel. Rooi is lande waaruit jy definitief as reisiger moet uit bly.
http://www.cbc.ca/news2/interactives/travel-warnings


Wereld Reis Kaart: Gevaarlike bestemmings (Klik om te vergroot)

Laaste Bywerking: 2014/02/18

Flag Counter