HOE BEREKEN EK DIE KOSTE VAN 'N REIS IN AFRIKA

Daar is twee metodes wat ek deur die jare gebruik het. Die eerste metode (METODE 1) gebruik ek as ek baie versigtig met koste wil wees, my huidige finansies is 'n bietjie skraps of wanneer ons 'n baie lang reis wil onderneem of wanneer vriende gewoonlik wil saamry. Die tweede metode (METODE 2) gee my 'n baie goeie beraming wat 'n reis my behoort te kos en deur die jare het ek ook geleer dit is nogal redelik akkuraat en verskaf 'n vinnige antwoord maar onthou dit is 'n beraming.

  1. METODE 1 (Die mees akkurate metode.)
    1. Begin deur die roete wat jy wil reis vas te maak en op T4A te plaas. Breek hierdie roete op in die dele wat jy beoog om per dag te ry. Bepaal waar gaan jy elke aand slaap. Indien jy in 'n tipiese nasionale park oorbly, maak seker jy onthou dat die meeste buitelandse parke op 'n 24uur dag werk. As jy dus 8h30 by die ingangshek inry moet jy weer voor 8h30 by die hek uit wees anders betaal jy weer vir 'n volle dag of jy in die park is of nie.
    2. Begin deur 'n spreivel soos die aangehegte voorbeeld op te stel met die volgende kolom titels; datum of item nommer, die plek (waar), beskrywing van uitgawe, koste per persoon per dag, die aantal persone per voertuig, die aantal dae ter sprake as jy nie jou berekeninge per item wil doen nie en dan 'n finale kolom wat die total vir hierdie ry of uitgawe stel bevat.
    3. Jou volgende taak is om op die internet in te gaan en vir elke uitgawe die huidige tariewe te kry of liefs die tariewe wat sal geld wanneer jy die reis wil onderneem indien reeds beskikbaar en dit in jou spreivel in te vul.
    4. Tariewe wat jy nie op die internet direk kan vind nie sal jy die instansie moet nader vir 'n kwotasie of 'n besprekings versoek insit. Laas genoemde is soos 'n kwotasie, sou jy die bespreking nie in die tyd verstrek bevestig nie verval die bespreking outomaties.
    5. Onthou dat die meeste nasionale parke of natuur reservate 'n daaglikse toegangsfooi of natuurbewaringsfooi per persoon vra, 'n bedrag per dag vir jou voertuig en dan 'n aparte bedrag vir verblyf.
    6. Wanneer jy nou die totaal verkry van die finale kolom het jy die koste van jou verblyf en uitstappies.
    7. Die volgende stap is om 'n raming van jou brandstof koste te maak. Bepaal die totale aantal kilometers wat jy beoog om te ry deur op T4A in te gaan, 'n roete te selekteer met jou muis, regter muis knoppie te druk terwyl die roete geselekteer is, die laaste opsie op die spyskaart wat verskyn te kies “Route Properties”, kies dan bo aan die nuwe spyskaart “Directions” met 'n linker muisknoppie en onder aan die lys van rigting aanwysings vind jy die totale afstand (“Total Distance: …”) vir die roete wat jy geselekteer het. Herhaal die proses totdat jy die volle reis se kilometer totaal het.
    8. Indien jy nie vir lang tye in laebestek (”low range”) gaan ry nie tel nog 10% by die reis se totale kilometers. Dit is om vir 'n bietjie hier afdraai wat nie beplan was nie of wanneer jy verkeerd gery het en moet terug draai voorsiening te maak. Indien jy weet dat 'n sekere roete sal vereis dat jy in lae bestek moet ry, maak 'n nota van hoeveel kilometers jy in lae bestek gaan ry. As jy beplan om saam met 'n groep in die woestyn te ry dan gaan 'n groot deel van jou kilometers moontlik in lae bestek wees.
    9. Gebruik nou jou minimum brandstofverbruik (kilometer per liter) wat jy al op die oop pad gekry het en deel dit in die totale kilometers wat die reis gaan neem om sodoende die aantal liters brandstof wat jy gaan benodig te verkry. Let wel moet nie jou sogenaamde braaivleis grootpraat gemiddelde brandstofverbruik gebruik nie. Jy gaan net jouself finansieel in die verleentheid stel.
    10. Vir diesel gebruikers bepaal die gemiddelde brandstof prys van jou omgewing en gebruik dit vir jou berekeninge. Vir petrol gebruikers is dit maklik, gebruik die huidige gereguleerde petrol prys. In die meeste buurlande met uitsondering van Zimbabwe, Zambia en Malawi is die brandstof pryse effens goedkoper as in Suid Afrika. Indien jy skrikkerig is vir skommelinge in die brandstofprys tel so 5% by die prys per liter.
    11. Vermenigvuldig nou jou prys per liter met die aantal liters benodig en voeg dit by op jou spreivel. Maak 'n nota op jou spreivel van hoeveel kilometers teen watter brandstof verbruik en teen watter prys jy gebruik het.
    12. Bepaal of daar enige grenskruisings kostes en enige addisionele derde party versekering ter sprake sal wees op jou reis deur die AA (Automobile Association of South Africa) se webblad te besoek http://www.aa.co.za/travel/into-africa/ . Indien jy buite die SADEC lande wil reis sal jy vir jou voertuig ook 'n Carnet de Passages, 'n paspoort vir jou voertuig, moet uitneem by die AA.
    13. Nou vir die voorlaaste uitgawe item. Ons werk tans vir twee persone (volwassenes) tussen R150 en R200 per dag vir kos, snuisterye, koeldrank en drank (in my geval, waar een of twee biere per dag genoeg is). Vir ander gesinne sal daar dalk 'n aparte drank koste beraming op die lys geplaas moet word. Vermenigvuldig bogenoemde bedrag met die aantal dae wat jou reis gaan duur en voeg hierdie bedrag ook tot jou spreivel toe.
    14. Die laaste item op die lys is enige enkele groot uitgawes wat jy mag voorsien soos 'n ballonvaart, wildbesigtigingsritte, ens,. te lys en by te sit op jou lys van uitgawes.
    15. Die uitdaging is om nou die groot totaal te kry, die skok te oorleef en dit aan jou wederhelf voor te lê.

  2. METODE 2 ('n Goeie beraming van kostes.)
    1. Bepaal vir hoe lank jy van die huis weg sal wees. Vermenigvuldig die aantal dae met een van die volgende:
      • R500/dag vir 2 persone op 'n kampeer reis in Namibia
      • R650/dag vir 2 persone op 'n kampeer reis in Botswana indien jy plus minus 50% van die tyd in nasionale parke gaan wees.
      • R650/dag vir 2 persone op 'n kampeer reis in Zimbabwe en Zambia indien jy beoog om meer as 50% van die tyd in nasionale parke deur te bring.
      • R1000/dag vir 2 persone op 'n kampeer reis in Tanzania, Kenia, Uganda indien jy beoog om nie meer as 50% van die tyd in 'n nasionale park deur te bring nie.
    2. Onthou hierdie syfers is 2013/2014 syfers en sou jy dit in die toekoms wil gebruik pas dit met so 5% per jaar aan. Bogenoemde syfers geld net vir twee persone wat selfversorgend kampeer.
    3. Die volgende is jou brandstof koste. Gaan te werk soos in 1.(f.) tot 1.(j) hierbo beskryf.
    4. Bepaal of daar enige spesiale groot uitgawes is wat jy wil aangaan en stel vas wat dit jou gaan kos.
    5. Tel nou hierdie drie syfers bymekaar en jy het 'n baie goeie beraming vir jou toer.

    Indien jy beoog om verder op in Afrika te reis buite die SADEC lande dan moet jy ook voorsiening maak vir addisionele derde party versekering (COMESA versekering) en 'n Carnet de Passages. Beide hierdie items kom teen 'n prys. Gaan na die AA webblad vir meer besonderhede . (http://www.aa.co.za/travel/into-africa/).

  3. Daar is nog een uitgawe wat voorsien moet word naamlik jou NOODFONDS , dit is vir 'n noodgeval of enige onvoorsiene uitgawes. Jy moet minstens 'n reserwe bron van kontant van nie minder as R5000.00 saam neem of via 'n kitsbank tot jou beskikking hê.

  4. ONGELUKKIG IS 'N REIS IN AFRIKA BUITE ONS LANDSGRENSE NIE GOEDKOOP NIE, VERAL NIE AS JY SY VOLLE SKOONHEID WIL SIEN EN ERVAAR NIE.

Laaste Bywerking: 2013/12/09

Flag Counter