ONS 2008 TOYOTA HILUX 3.0 D-4D 4x4 RAIDER DC (Diesel)

'n Wonderlike voertuig om mee te toer en vir elke dag se gebruik. Meer krag as wat nodig is teen relatief goeie brandstof gebruik. Nie juis die mees gesofistikeerde voertuig in sy mark segment nie maar vir 4X4 toer is ongesofistikeerd en so min as moontlik elektronika, die beste roep. Aanvanklik het alle 2005-2009 Hilux bakkies en dubbelkajuite standaard afdraande gestaan (Toyota se verskoning was dat as jy die bakkie laai, hy dan gelyk sal staan en sy gat nie sou hang nie). Die eerste modifikasie was dus om die neus sodanig te lig dat die voertuig gelyk staan. Om dit reg te kry was dit nodig om die voorste spiraalvere van die Hilux met standaard Prado voor spiraalvere te vervang. Met die bakkie nou gelyk, kon die res van die ombouings op die voertuig begin.

Aangesien ons met hierdie voertuig alle terreine wou aanpak en ten volle selfonderhoudend alleen reise wou kon onderneem, het ons die voertuig dienooreenkomstig ingerig en die gewig van die voertuig so laag as moontlik probeer hou.

Ons het die volgende verandering aangebring:

  1. Soos genoem het ons die Hilux se voorste spiraalvere vervang met voorste spiraalvere van 'n Prado om sodoende die voertuig gelyk te kry en nie meer met sy neus in die grond nie. Ek het hierdie metode bo die installering van pakstukke tussen die voorste vere en die voertuig se bak verkies omdat ek sodoende meer reik afstand (“travel”) op my voor wiele kon kry.
  2. Die voorste en agterste skokbrekers is met OLD MAN EMU (OME) NITROCHARGER skokbrekers vervang wat baie goeie diens op hierdie voertuig gegee het. Let daarop dat ons nie die voertuig laat lig het nie, om sodoende die swaartepunt van die voertuig so laag as moontlik te hou.
  3. Die volgende was 'n staal ONCA INTEGRATED NUDGE BAR of liefs 'n 4x4 voorbuffer wat voorsiening maak vir misligte asook 'n wenas. Hierdie modifikasie het van die Tupperware voor aan die voertuig ontslae geraak en die invalshoek van die voertuig drasties verbeter.
  4. Ek het ook 'n 2mm staal skermplaat voor onder die voertuig laat installeer om die enjin se oliebak en stuur meganisme te beskerm teen groot klippe waaroor jy per ongeluk mag ry.
  5. Omdat ons baie op ons eie ry het ek 'n COME-UP DV 9000 (9000lb) wenas laat inbou. (Ek kon nog nooit die hoë koste van 'n WARN wenas op 'n toervoertuig regverdig nie). Ek het minstens 5 groot herwinnings met hierdie wenas uitgevoer en het nie eenkeer enige probleme ondervind nie.
  6. Om te verseker dat ons genoeg batterykrag sou hê indien ons die wenas moet gebruik maar ook om 'n 12V yskas/vrieskas te kan trek het ons 'n dubbele batterystelsel laat insit. Aanvanklik het ons 'n NATIONAL LUNA stelsel met 'n twee battery monitor laat installer maar gou agtergekom dat die stelsel nie na wense laai nie, veral as jy nie baie op 'n dag ry nie. Hierdie stelsel is toe vervang deur 'n CTEK D250S Dual GS-GS 20 Ampere battery beheer en laai stelsel met direkte sonpaneel inset punt as ook 'n CTEK MXS 7 220V batterylaaier. Die D250S Dual het ons voor net onder die instrumentpaneel aan die passasierskant geïnstalleer uit die warm omgewing van die enjin. Die battery laaier het ons met Velcro aan die mat laat kleef op die vloer tussen die deur en die passasiers sitplekglybaan met sy 220V toevoer draad gekoppel op my tuis geboude 220V / 12V distribusiekas agter in die kappie. Die tweede battery op hierdie voertuig was 'n 105 AH diep siklus battery van Deltec wat voor in die enjinkompartement geïnstalleer is.
  7. Vir die “mooigeit”, het ek 'n stel WARN 500 kolligte laat installer vir die wis en onwis aangesien ons streng hou by die reël om nie in die nag te ry nie.
  8. Omdat die Hilux redelike groot hoofligte het en ek seker was dat hul 'n fortuin sal kos om te vervang, het ek 'n stel skoon polikarbonaat skerms oor die ligte laat installeer. (Standaard Toyota toebehore.) Hulle knip net in plek as die enjinkap oop is. Hierdie was 'n baie goeie besluit aangesien ek drie van hierdie skerms oor die periode wat ons die voertuig besit het moes vervang as gevolg opskiet klippe wat hul beskadig het.
  9. Nog 'n goeie besparingsmaatreël was die spoedbeheer wat Toyota op my versoek laat installeer het voordat ek die voertuig in ontvangs geneem het. Met al die krag tot jou beskikking en die gerief waarop hierdie voertuig selfs 160km/u kan haal, is dit moeilik om binne 'n 100 of 120 km/u spoedgrens te bly veral as jy lang afstande aflê. Die beheer stokkie word links op die stuurkolom gemonteer en kan baie maklik geaktiveer word. http://www.bestech.co.za/autocruise.html
  10. Ek het ook 'n tweede brandstoftenk van 70 liter laat installeer wat met gravitasie die eerste tank vul. Gesamentlik kon ek dus 150 liter diesel aan boord neem en ongeveer 1250km ry tussen vulstasies. Hierdie syfer sal natuurlik drasties afneem indien jy voltyds in laestrek 4x4 moet ry, die swakste op al ons ritte was ongeveer 900km. Indien ek nie seker was of dit genoeg sou wees nie en omdat ek maar altyd glo dat voorsorg beter is as nasorg sal ek 'n addisionele 20 liter Jerry kan met diesel in die bakkie se laairuim vasgemaak saamry. Die tweede tenk was deur LA Sport Gezina geïnstalleer en met die eerste vul slag kom ons skielik agter dat daar diesel onder die voertuig uit stroom. By nader ondersoek blyk dit toe dat hulle vergeet het om die pyp tussen die ou en nuwe tenks te koppel. Kon nogal 'n gemors afgegee het as jy die volgende dag op 'n langrit moes vertrek. Lesse geleer : Moet nooit die dag voordat jy met vakansie gaan aan jou voertuig laat werk nie. Sorg dat alles minstens 'n week tevore afgehandel is en neem die voertuig op 'n deeglike toets rit oor die naweek voor jy vertrek.
  11. Om die engine hoofsaaklik teen stof te beskerm en nie soseer teen water nie het ek 'n SAFARI snorkel laat installeer. Die snorkel was goud werd veral in Angola met sy stofpaaie.
  12. Wat ek wel gedoen het vir daardie waterkruisings in Moremi wat soms 'n bietjie diep kan wees was om die ratkas, voorste en agterste ewenare se asemhalings pype te verleng to hoog op in die enjin kompartement en in die laaibak. Ek het standaard parte gebruik van die rak parte gebruik. Die klep aan die einde van jou verleng pyp is 'n standaard Toyota part (Part No.: 90930 03031, “Plug, Beather”), die pyp is 6mm laedruk hidroliese rubberpyp (benodig so 5m vir die drie pype). Jy mag natuurlik jou voorste ewenaar en ratkas pype met 'n T-stuk koppel as jy wil en sodoende die hoeveelheid pyp verminder. Jy sal ook drie geelkoper 1/8” BSP x 6mm tapbout pypkoppelstukke nodig. Die pype kan jy plek-plek vasmaak met 5mm x 200mm kabelbinders (“Cable Ties”). Maak net seker die kleppe sit hoër as wat jy verwag die water kan kom as jy deur 'n diep waterkruising gaan. Die foto hier onder wys hoe die parte vir een opstelling daar uitsien.
  13. Die laaibak is ge-“rubberize” vir duursaamheid en om dit te beskerm teen die skuur aksie van jou vrag wanneer jy rowwe terrein ry.
  14. Die mooi sagte aluminium treeplanke van Excalibar langs die kant van die voertuig het ek onmiddellik laat vervang deur 'n stel AUTOBAR “rock sliders” gemaak van Ø76mm pyp met 'n 3mm wanddikte en geseël op beide ente.
  15. Om die sitplekke te beskerm het ons die voorste en agterste sitplekke met 'n stel grys MELVILLE & MOON katoen seil sitplek oortreksels oorgetrek. Hulle het goed gehou maar ook met tyd hul kleur en tekstuur verloor daar waar jy inskuif wanneer jy inklim. Die voordeel van die seil oortreksels is dat hulle jou minder laat sweet wanneer jy ry.
  16. Die agterste buffer het ek vervang met 'n ONCA standaard staal buffer sodat ek later self 'n tweede spaarwiel op 'n selfgemaakte swaai arm kon monteer. Die voordeel van hierdie buffers is dat hul herwinningspunte en “high lift” domkrag punte in gebou het en ook stewig aan die voertuig se onderstel bevestig word.
  17. Foto geleen by ONCA. My Hilux se buffer was net swart.

  18. Ek het toe my eie swaai arm ontwerp en op die ONCA buffer vasgebout en het meer as 120000km sonder enige probleem daarmee gery.
  19. Ek het ook die standaard sleepstang met bal verruil vir 'n sleepstang met 'n bal en pen sodat ek die pen ook kon benut in 'n herwinnings of sleep situasie. (Moet NOOIT die bal gebruik om aan vas te maak tydens 'n herwinningsaksie nie. Meer as een person is al dood of ernstig beseer wanneer die bal afbreek en soos 'n projektiel na die voertuig wat herwin word vlieg.)
  20. Ek was ook baie gelukkig om by Toyota Gezina se top motorverkoopsagent , Brigitte van Wyk (diens altyd uitstekend), 'n tweedehandse aluminium velling vir my tweede spaarwiel te kon kry.
  21. Ek het van die eerste dag af die Dunlop 255/70 R15’s wat op die voertuig was vervang met 31 x 10.5 R15 Bridgestone Duelers 694 A/T. Hierdie modifikasie het my voertuig met 24mm gelig sonder om die veerstelsel as geheel te lig. Die voertuig se kilometer lesing en spoed het as gevolg van hierdie verandering met 6.5% aangepas. Ek het dus 6.5% vinniger gery as die voertuig se spoedmeter aangetoon het en ook 6.5% verder gery as wat die odometer gelees het. (Laasgenoemde is belangrik as jy jou brandstofverbruik korrek wil uitwerk.)
  22. Weereens om my bande te beskerm het ek 'n stel banddruk en temperatuur monitors in die bande laat sit. My keuse het op DIGITYRE OFFROAD stelsel geval omdat die stelsel jou toelaat om die druk so laag as 0.8 bar te laat sak met die druk van die skakelaar wanneer jy in diep sand wil ry en jou dan nog steeds kan waarsku as iets verkeerd gaan met jou bande. Die enigste wat jy moet onthou is dat die sensors in jou kleppe sit en dus versigtig gehanteer moet word sou jy die bande op die vellings wil ruil. Om hul te vervang kos nogal 'n aardige bedraggie. http://www.digitire.co.za/TPMS.php
  23. FRONTRUNNER maak 'n baie netjiese brandkluisdeur van 2mm staal plaat wat jy oor die openinge onder die agterste sitplek kan installeer onder die laaghout deksels wat met mat oorgetrek is. Die spesiale bevestigings boute pas netjies in reeds bestaande gate in die vloer. Geen boorwerk is dus nodig nie. Hierin kan jy jou buitelandse valuta en paspoorte veilig toesluit as jy reis, uit die oog en uit die hart van enige skelms.
  24. Omdat ek nie soos met my ou Hilux genoeg tyd gehad het om my eie kappie te ontwerp en te bou nie moes ek tevrede wees om 'n kappie van die rak af te koop. My keuse het op 'n OUTBACK ALUTOP CANOPY geval omdat ek kon kies hoe my sydeure moes oopmaak (boontoe of ondertoe) en ek het ook die keuse gehad het tussen 'n agterste deur met 'n aluminium paneel eerder as met 'n glaspaneel. Die kappie is toe mooi netjies in wit gelewer. Die OUTBACK ALUTOP CANOPY is bekend daarvoor dat hy baie sterk gebou is en die straf van rowwe 4x4 ry kan hanteer. Foto's van voertuie wat gerol het toon ook min skade aan hul Alutop kappies. Hy sluit net nie altyd so 100% stofdig nie.
  25. In die kappie het ek 'n klein elektriese distribusie kassie (DB) ingebou sodat wanneer ek op 'n plek staan die aand, en daar is elektriese krag beskikbaar, dat ek die 220V kon inprop aan die sykant van die kappie en dit dan soos benodig kan aanwend. Ek het 'n standaard woonwa 220V toevoerpunt van CI Caravans gebruik. Die 220V het onmiddellik in 'n 30 Amp aardlek breker in gegaan en van daar na 'n 15 Amp stroombreker om te verseker dat die drade wat ons in die voertuig aangebring het se stroombereik nie oorskry word nie. Die 220V is dan na 'n 220V driepunt muurprop eenheid in 'n waterdigte kassie aan die sykant van die kappie net bo die woonwa 220V toevoerpunt om 'n ketel te kan kook of om my skootrekenaar en 220V buisligte in ons tent te kon gebruik. 'n Tweede koppeling het na 'n 10 Amp, 220V WS na 12V GS gereguleerde transformator gegaan. Hiermee het ons dan die yskas en indien nodig die 12V ligte in die tent aangedryf. Deur 'n skakelaar op die DB kon ons dus kies of die yskas van die tweede battery op die voertuig of van die 220V stelsel aangedryf moet word. Verder kon ons indien nodig ook die yskas saans op die DB afskakel indien ons sodoende batterykrag sou wou bespaar. Daar was ook twee Hella sokke (swart proppies langs woonwa 220V toevoerpunt) op die sykant van die voertuig waar ons ons 12V ligte kon inprop. Sien foto hieronder.
  26. Aan die binnekant van my Alutop kappie aan die voorkant het ek 'n raam gemaak wat van die kappie se dak gehang het met 200mm hoë rak bo waarop ons twee opslaan kampbedjies en 'n opslaan tafeltjie gestoor het en 'n onderste rak met twee gegalvaniseerde glybane, een aan elke kant waarop ons drie standaard Outdoor Warehouse ammunisiekiste gestoor het. Hierdie kratte het ons kos, breekgoed, potte en panne asook elektriese toebehore bevat. Met hierdie konfigurasie was die laaibak skoon onder en kon enige van die kratte deur een van die kappie se sydeure bereik word. (Het ongelukkig nooit 'n foto van hierdie opstelling geneem nie.)
  27. Om ons in staat te stel om van tyd tot tyd wel iets soos hout of sandlere bo op die kappie se dak te kon laai het ek van 19 x 19 x2 mm vierkantige staal buis 'n dakrak raam gebou en dit bo op die kappie vasgebout in die reeds bestaande groewe met ses M8 boutjies. Die voorkant het ek skuins gemaak en met 1mm plaat oorgetrek om die windweerstand effens te verminder. Aan die passasierskant kon ek 'n 2.5m HOWLING MOON ALU AWN monteer en aan die bestuurder se kant het ek voorsiening gemaak vir die “high lift” domkrag. Ook vas aan die dakrak was die 29 MHz radio se antenna en aan die agterkant 'n enkele reghoekige Hella kollig vir wanneer jy in die donker moet kamp op slaan (maar nooit gebruik nie).

TEN SLOTTE: Ons het die ongelooflikste paaie gery en die wonderlikste plekke besoek met ons 3.0 D-4D HILUX DC. Die enigste probleem wat ons gehad het en dit was uniek tot ons voertuig was die dieselstelsel wat ons van tyd tot tyd probleme gegee het. Die meeste van die werk om hierdie probleem op te los was deur die voertuig se waarborg en diensplan gedek en is dus deur Toyota self gedra maar eers na die nodige gestoei en armdruk wat gewoonlik daarmee gepaard gaan.

Namibia – Etosha NP (Ons standaard kamp uitleg op al ons reise met hierdie Hilux.)

Lesotho – Sneeu op Kotisephola pas
Angola – Eindelose stof en slegte paaie
Namibië – Hoanib rivierbed

Namibië - Kunene Eko-roete. En soms is 'n wenas Skielik baie handig.
Namibië - Spitzkoppe
Namibië – Skedelkus NP
Suid-Afrika – Die Oos-Kaap (R396)
Suid-Afrika – Augrabies NP

Laaste Bywerking: 2013/12/19

Flag Counter