MY 2013 TOYOTA LAND CRUISER 4.0 V6 PETROL MEANO DUBBELKAJUIT

Na 'n lang gewag maak Toyota se nuwe dubbelkajuit Land Cruisers hul opwagting in Desember 2012, maar ai my hart was seer toe ek die voertuig vir die eerste keer sien en kon toetsbestuur. Die volgende het my baie gepla; die beenruimte vir die agterste passasiers was werklik baie skraps, te klein vir 'n volwassene, die wielvellings en bande was die standaard “split rims” met binnebande en smal 235mm Yokohama Super Hajari buitebande, geen wiel “flairs”, 'n agterdeur wat baie eienaardig gesny is na agter aan die onderkant en inklim agter bemoeilik. Die afwerking was ook nie te waffers nie.

Na baie somme, navorsing en “soul searching” het ek besluit om die ou roete te loop naamlik om Meano en Seuns te vra om 'n enkelkajuit om te bou na 'n dubbelkajuit volgens my vereistes.

In Januarie 2013 skaf ek vir my 'n nuwe enkelkajuit aan met al die nuutste tegnologie wat ek graag in my Land Cruiser wou hê, naamlik skyfremme voor en agter met ABS, die netjiese stel aluminium sierwiele met binnebandlose bande met 'n wydte van 265 mm en die nodige wiel “flairs” om hul te bedek. Die belangrikste was die twee 90 liter brandstof tanks wat standaard op die voertuig is (reikafstand +/- 1080km). Die nuwe dubbelkajuit van Toyota kom uit met 'n enkel tenk van 130 liter (+/- 780km maks.) Volgens my sal jy addisionele brandstof in los jerry kanne moet saamry of 'n tenk in die laaibak laat installeer aangesien daar nie plek onder die voertuig is nie.

My 2013 Toyota LC SC 4.0 V6 Petrol net voor sy Meano DC ombouing.

Laaste sien van my 2013 LC SC se ou agterkant.

Met 350 km op sy odeometer het my enkelkajuit ingegaan vir sy groot ombouing. Ses weke later was my nuwe dubbelkajuit gereed. Die Meano ombouing is deur ingenieurs ontwerp en goedgekeur, waarna dit by die SABS getoets is en deur 'n volledige homologasie proses geneem is om die veiligheid en sterkte van die ombouing te bevestig. Ek het reeds drie van hierdie ombouings gesien wat gerol het en die wonderlike was dat in elkeen van die gevalle het die sentrale deel van die kajuit ongeskonde gebly en terselfdertyd die voorste deel van die kajuit beskerm. Die sterk staalraam wat Meano inbou werk soos 'n “roll cage” en verseker die ombouing se integriteit. Vakmanskap het ook oor die jare verbeter en dubbelkajuit lyk wonderlik en is baie netjies afgewerk. Hy het selfs in Mei 2013 se Leisure Wheels in 'n artikel verskyn: LEISURE WHEELS (PDF)

My 2013 Toyota Dubbelkajuit van voor gesien net na die Meano ombouing

My 2013 Toyota Dubbelkajuit van agter gesien net na die Meano ombouing

Die volgende stap was om die my dubbelkajuit sodanig uit te rus dat ons op alleen reise sal kan gaan. Ons eerste toer was geskeduleer vir Mei 2013 om onder andere vir ses dae saam met die Live the Journey groep (10 voertuie plus twee gids voertuie) al met die Skedelkus in Namibia op te ry tot by die Kuneneriviermond, dan oos te draai en deur die Namib tot in die Hartmannsvallei te ry en van daar dan deur Kaokoland tot by Sesfontein sal ry.

Die volgende modifikasies was gedoen:

  1. Die eerste item op my lys was 'n aluminium allooi wielvelling vir die tweede spaarwiel om my 6 wiele op die voertuig te kan gee.
  2. Die standaard binnebandlose bande Dunlop Grandtrek AT1 265/70R16 is verruil vir Bridgestone Dueler D697 ATS 265/75R16 wat vanweë sy groter deursnee die voertuig sodanig lig dat die vryhoogte 25mm hoër is. 'n Tweede rede vir die ruil was dat Dunlop Grandtrek AT1 glad nie in Suid Afrika beskikbaar is nie. Jy kan dus nie 'n tweede spaarwiel aanskaf of 'n beskadigde band vervang nie. Net Toyota SA kon so 'n wonderlike besluit neem sonder om hul kliente in ag te neem en daarmee wegkom.
  3. Om een van Toyota se grootste foute op die Land Cruiser te herstel moes ek op elkeen van die agterste wiele ’n 47.5mm aluminium spasieerder laat installeer sodat die voorste wiele en die agterste wiele in dieselfde spoor kan loop.
  4. 'n Safari Snorkel is geinstalleer.
  5. Volgende was 'n Ctek D250 S Dual GS-GS 20 Ampere battery laaier met sonkrag inset punt en 'n Ctek MXS 10 laaier wat vanaf 220 V werk. Die tweede battery is 'n Deltec Betta 100Ah Lood Kristal battery. Hierdie tipe battery alhoewel duur hou langer en het geen problem om van vol na leeg te gaan en dan weer vol gelaai te word nie sonder om kapasiteit oor tyd te verloor. Hy laai ook vinniger wat beteken dat al ry ek nie 10-12 ure per dag nie, ek nog steeds met 5-6 uur se ry die battery ten volle kan herlaai.Hierdie stelsel het ook 'n National Luna dubbel battery monitor wat die stand van sake van beide die twee batterye aantoon. Beide die twee batterye is in die enjinruim. 'n redelike dik stel drade (elk 4mm in deursnee) is deur getrek tot agter in die laaibak waar dit eindig op 'n grys 50 Ampere SB Brad Harrison prop. Hier koppel die kappie se ingeboude ligte en die yskas se krag draad met die battery stelsel op die voertuig.
  6. Die voorste standaard buffer is vervang met 'n ARB DELUX staal buffer met die nodige versterkings vir 'n wenas asook misligte. Die buffer is ook 'n metaal grys kleur gespuitverf.
  7. 'n TMAX EW-12500lb 12V wenas is geinstalleer.
  8. En vir ydelheid het ek 'n paar goedkoop maar effektiewe HELLA Comet 500 kolligte laat installeer.
  9. Ons het ook 'n 6mm aluminium ARB plaat voor onder die voertuig geinstalleer om die stuurstelsel en die enjin se oliebak teen groot klippe te beskerm. Hierdie plaat heg voor aan die ARB buffer en agter op die onderstel.
  10. 'n Tweede probleem met 'n Land Cruiser bakkie is dat dit geen kaart sakke in die deur panele het nie. Om die probleem te oorkom het ek 'n stel African Outback (Big Country) kaart houers teen die deure laat aanbring. Dit lyk baie netjies en werk wonderlik.
  11. Die volgende was die installasie van 'n Kenwood TK 7302, 16 kanaal, VHF radio en antenna. Ek verkies 'n antenna montering wat verwyderbaar is en met boutjies op die agterkant van die enjinkap vasgehou word. Jy kan dus jou radio verwyder sonder om gate in die bak te los.
  12. 'n Nuwe agter buffer met twee spaarwiel swaai arms van Africa Extreme 4x4 is geinstalleer. Hierdie stelsel werk lekker vir die vroue geslag want die sluit meganisme open en sluit baie maklik. Verder word die arms stadig met behulp van 'n gasdemper oop gemaak.
  13. Om die stof te help uithou is daar 'n seël tussen die laaibak se klap en die laaibak self geinstalleer.
  14. Die sitplekke het 'n netjiese stel grys oorteksels met leer insetsels aan die inklim kant van die sitplek voorsien is. Hierdie netjiese stel kom van Armand by Caracal Leather & Canvas.
  15. Die bokant van die instrumentpaneel word beskerm deur 'n seil doek met drie sakkies vir al jou drade en elektroniese toebehore daarop gewerk ook deur Caracal Leather & Canvas voorsien is. Dit beskerm jou instrumentpaneel teen die son, maar die stoorplek is onontbeerlik. Ons het binnein bo teen die deksels 'n stukkie silver lugborrel isolasie ingesit om net die temperatuur in die sakkies te verlaag wanneer die voertuig lank in die son staan.
  16. Om te verseker dat daar genoeg lig is in die laaibak wanneer iets in die aand gesoek word is daar 'n Lumino 6 LED 12V aluminium strooklig met sy eie skakelaar by elke deur geinstaleer.
  17. Twee 12V Hella sokke is aan die buitekant van die kappie aangebring om krag te voorsien vir ons tent se binne en buite ligte.
  18. Ten slotte het ek vir ons 'n klein kompakte kombuisie gebou sodat wanneer ons langs die pad wil stop vir 'n vinnige koppie koffie of iets te ete slegs die klap kan afslaan met alles byderhand en die deur mat dien as werks oppervlak.
  19. Vir die toer na Namibia het ek tydelik 'n dakrak opgesit met houers vir 4 ekstra 20 liter jerry brandstof kanne, Vir die rit langs die Skedelkus op en deur die Namib en Kaokoland tot by Palmwag het ek 250 liter brandstof nodig gehad.
  20. Ek het ook my ou Hilux se 2.5m Alu-Awn teen die dakrak geinstalleer om so 'n bietjie skaduwee te gee bo-oor die kombuisie.
  21. Voorkant van my dubbelkajuit LC net voor ons vertrek na Namibia in Mei 2013.

    Die agterkant van my dubbelkajuit LC net voor ons vertrek na Namibia in Mei 2013.

    Hermien se kombuisie aan die kant van ons LC. Hier is genoeg eetgerei in vir vier persone met die nodige koffie en tee asook konfyt en Marmite vir broodjies langs die pad.

    Die dubbelkajuit het hom uitstekend gedra tydens ons reis deur Namibia en die duine ten spyte daarvan dat hy swaar gelaai was, het hy baie goed hanteer. Die 4.0 V6 het geen probleem met duine nie. Ons moes wel ons banddruk aanvanklik na 1 bar toe sak en later na 0,8 bar soos ons dieper die woestyn in gery het.

    In die Namib naby die Kunene rivier met Angola se berge in die agtergrond

    Die ombouing was 'n reuse sukses en ek is nie een dag spyt dat ek dit laat doen het nie. Die rit van Pretoria na Gabarone vir die Botswana 1000 Desert Race en terug met vyf groot volwassenes (meer as genoeg beenruimte agter) en al ons kamp toerusting sonder die dakrak was 'n bewys daarvan. Definitief nie 'n rit wat jy met Toyota se standaard dubbelkajuit sou wou aanpak nie.

    Die Botswana 1000 Desert Race toeskouer span uit Pretoria.

Laaste Bywerking: 2013/11/27

Flag Counter