Gedroogde Maalvleis resep

Neem ongeveer 1kg maalvleis en maak dit gaar soos gewoonlik met so min moontlik vloeistof daarby. Geur met gunsteling speserye. Sodra dit gaar is skep in oondpanne en droog dit verder in die oond teen 120oC. Roer dit kort-kort met 'n vurk. Dit hoef nie kurkdroog te wees nie, maar daar moet so min as moontlik vog in wees. Laat goed afkoel en skep in plastieksakkies. Vakuum verpak dit en dan kan dit weke lank vars bly sonder dat die vleis gevries hoef te word. Hermien kry so drie pakkies uit 1kg se maalvleis wat meer as genoeg is vir twee persone. Wanneer ons meer as twee persone is haal sy net meer pakkies uit haar voorraadekrat uit. Indien 'n pakkie vakuum verpakte maalvleis nie gedurende 'n reis gebruik is nie, kan jy die pakkie in die vrieskas bêre vir so lank as 6 maande sonder dat dit iets sal oorkom.


Hierdie pakkie is meer as genoeg vir twee volwassenes.

Wanneer jy dit wil gebruik:

Gooi inhoud van pakkie in 'n bak. Gooi kookwater oor die droë maalvleis sodat dit ten volle bedek is. Laat staan vir ongeveer 'n halfuur sodat maalvleis weer kan uitswel.

Gebruik die maalvleis nou soos verkies om 'n heerlike dus soos spaghetti bolognese of maalvleis met gemengde groente op fyngedrukte aartappels of as 'n vulsel saam met vetkoek.

So terloops

Ons vind dit baie handig veral as ons 'n baie moeilike en lang dag agter die rug het en ek nie die krag of lus het om vuur te maak en te braai nie. Hermien het dan binne 'n driekwart uur 'n heerlike warm ete wat sy kan voorsit, sonder baie moeite. Hierdie gedroogde maalvleis kan ook jou lewe red as jy onverwags vir 'n periode in die bos gestrand is en jou vrieskas werk ook nie meer nie (byvoorbeeld as jou voertuig skielik sou breek op 'n afgeleë plek en jy vir hulp moet wag). Neem twee of drie pakkies saam as jy reis net vir 'n noodgeval.

Laaste Bywerking: 2014/01/23

Flag Counter