KAASKOEK IN DIE BOS

'N VINNIGE YSKAS KAASKOEK GEMAAK IN DIE BOS

Soms soek 'n mens iets soets vir 'n spesiale geleentheid of 'n nagereg langs die pad. Hierdie vinnige resep vir 'n yskas kaaskoek is so maklik om te maak en dit laat jou mond water. Hierdie resep benodig slegs 7 bestandele.

'n Dames porsie of 'n halwe porsie vir 'n man.

Hier volg die resep:


1 blikkie versoete kondensmelk (250g)
1 houertjie room (250 ml)
1 houertjie gewone roomkaas (250 g)
1/3 koppie suurlemoensap
1 blikkie grenadella moes (110g)
1 pakkie Tennis beskuitjies van Bakers of soortgelyk
5g geel margarine of botter

Daar is net twee dinge wat belangrik is. Die eerste is om die roomkaas uit die yskas te haal en vir 'n half dag buite die yskas te hou sodat dit kamer temperatuur kan bereik om sodoende 'n sagte en romerige tekstuur te verkry. Dit gee die gladde tekstuur aan die kaaskoek wat jy graag wil hę, indien jy dit nie doen nie kry jy onaangename roomkaas klonte in die kaaskoek. As jy wil toets of die roomkaas sag genoeg is, kyk of dit maklik smeer met 'n mes. Die tweede en mees belangrikste ding, is om die suurlemoensap heel laaste by te voeg. Die suurlemoensap veroorsaak dat jou mengsel styf word.

Begin deur die pak Tennis beskuitjies in 'n “ziplock” plastiek sakkie fyn te maak om as kors te dien vir die kaaskoek. Smelt die 75g margarine of botter. Gooi die fyn gemaakte Tennis beskuitjies in 'n mengbak en gooi dan die gesmelte margarine of botter daaroor. Meng goed en voer dan jou tertbak se bodem daarmee uit. Ons gebruik 'n vierkantige plastiek bak (210m x 175mm x 50mm diep) wat gemaklik in ons 4x4 yskas pas en ook 'n deksel het.

Die volgende stap is om die roomkaas, room en kondensmelk saam in 'n skoon mengbak te gooi en goed te meng. Voeg nou ten slotte die suurlemoensap by. Klits vir ongeveer 2 minute vinnig met 'n draadklitser (“wisk”). Gooi mengsel bo oor jou Tennis beskuitjies en botter laag in jou tertbak. Indien jou mengsel styf genoeg is kan jy dadelik die grenadella moes versigtig bo-oor gooi vir versiering en ekstra lekkerte. Plaas bo in jou 4x4 se yskas / vrieskas, so naastenby horisontaal, vir ongeveer een tot een en 'n half uur. Hierdie resep is genoeg vir 6 groot manne of 9 dames of manne wat al effens versadig is.

Net reg om te sny en te bedien. Geniet!
Laaste Bywerking: 2014/05/12

Flag Counter