TUISGEBAKTE BROOD IN DIE BOS

INDEKS:


Hentiesbaai se Tuisgebakte Brood
Bierbrood
'n Uiesopbroodjie
'n Growwe Saad Broodjie
Bierbrood met Spek, Uie en Kaas

HENTIESBAAI SE TUISGEBAKTE BROOD
(My persoonlike gunsteling)


Hierdie resep het 'n wonderlike Tannie van Gansbaai vir ons gegee op Hentiesbaai van alle plekke. Dit is 'n baie maklike resep wat geen geknieëry nodig nie maar smaak soos my skoonma se tuisgebakte brood van ouds. Die enigste probleem is dat hierdie broodjie gewoonlik nie die aand uitsien nie. As jy dus brood vir more ook wil hê moet jy maar twee bak.

Hier is die resep:

500g wit broodmeel (Jy kan ook 250g bruin broodmeel en 250g wit broodmeel as alternatief gebruik, net vir 'n bietjie afwisseling. Die foto hierbo is geneem van so 'n broodjie)
2 eetlepels suiker
Sout na smaak (1½ -2 teelepels sout)
1 pakkie droë gis (10g)
± 2 koppies lou water

Meng droë bestandele. Voeg dan stadig die lou water by terwyl jy verder meng. Die deeg moet stewig wees nie te pap nie anders loop dit oor wanneer jy dit bak. Plaas die deeg in 'n goed gesmeerde 22cm lang broodpan en laat staan vir ± 1 uur om te rys.

Mooi gerys en reg vir die oond

Bak vir ± 1uur in 'n staal bakoondjie (ons een kom van Pioneer Plastics in Rosslyn, Pretoria, maar jy kan hulle ook by Makro of die meeste 4x4 winkels koop, ja ek weet dit klink snaaks maar dit is die regte maatskappy) met kole onder (10 brikette) en kole bo op die deksel (8 brikette). Ek grawe gewoonlik 'n mooi reghoekige gat in die grond waarin die bakoondjie net mooi pas. Dit verhoed dat die wind die hitte weg waai en dat jy altyd dieselfde bak omstandighede sal hê. Ek plaas dan ook twee brikette aan weerskante van die oondjie tussen die sykante van die gat en die lang sykante van die oondjie.

Om die broodjie maklik uit die pannetjie te kry dop ons die pannetjie om op 'n skoon afdroog doek en plaas dan 'n nat opwaslap oor die warm pannetjie. Die brood sal so effens sweet en dan gly hy sommer uit die pannetjie na 'n minute of twee.

Hermien maak gewoonlik voor 'n lang reis 'n paar plastiese sakkies met droë bestandele in die regte mate gemeng reg, sodanig dat ons slegs die pakkie droë gis en die lou water moet byvoeg net voor ons die broodjie wil bak. Dit neem minder plek in beslag en maak dit sommer baie makliker vir myself as dit my taak is die aand vir broodbak. Ek hoef dus nie die resep te onthou nie.


BIERBROOD

Seker die broodjie wat die meeste gebak word as die manne braai of kamp. As jy onthou om 'n pakkie bruismeel saam te neem op jou reis dan het jy sommer al die bestandele onthou wat nodig is want die res van die bestandele is gewoonlik standaard in jou voertuig as jy toer.

Hier is ons resep:

500g bruismeel
1 blikkie of botteljie bier (330ml)
125ml suiker ('n halwe koppie)
'n knypie sout ('n halwe teelepel)

Meng al die droë bestandele en voeg dan geleidelik die bier by terwyl jy meng. Plaas die deeg nou in 'n goed gesmeerde broodpannetjie. Die deeg het nie nodig om eers te reis nie en ek plaas die pannejie sommer dadelik in my Pioneer brood oondjie met 10 warm brikette onder en 8 brikette bo op die deksel in 'n gat in die grond. Die broodjie is gereed na ± 1 uur.

Weereens om die broodjie maklik uit die pannetjie te kry dop ons die pannetjie om op 'n skoon afdroog doek en plaas dan 'n nat opwaslap oor die pannetjie. Die brood sal so effens sweet en dan gly hy sommer uit die pannetjie na 'n minuut of twee.

'N UIESOPBROODJIE

Hierdie is 'n lekker broodjie vir daardie uithaal en wys aande om die vuur.

Hier is die resep:

1 pakkie bruin uiesop (50g)
500g bruismeel
500ml karringmelk
'n klein knippie sout (Wees versigtig die sop is ook sout.)
½ koppie gerasperde kaas

Begin deur die droë bestandele soos die uiesop, bruismeel en sout te meng. Voeg dan geleidelik die karringmelk by. Indien die beslag te droog bly voeg 'n klein bietjie melk by. Plaas die deeg nou in 'n goed gesmeerde broodpan en strooi dan die kaas bo-oor die deeg.

Hierdie broodjie het ook nie nodig om eers te rys nie en kan dus direk in die Pioneer oondjie gaan, met sy 10 kole onder en 8 kole bo, in sy gat in die grond. Hierdie broodjie behoort so na 55 minute gereed te wees.

'N GROWWE SAAD BROODJIE


Ons laaste broodjie is 'n Snowflake resep en die droë beslag koop jy sommer klaar gemeng in 'n pakkie van die rak af.

Hier volg die resep soos ook agter op die pakkie:

500g Snowflake “Seed Loaf, EasyMix”
2 eksta groot eiers
500ml karringmelk

Gooi die inhoud van die pakkie droë bestandele in 'n mengbak, voeg die twee eiers by en meng dan geleidelik die karringmelk in. Plaas die deeg nou in 'n goed gesmeerde 22cm broodpan. Hierdie broodjie het nie nodig om eers te rys nie en kan dus direk in die Pioneer Plastics of 'n soortgelyke oondjie gaan met sy 10 kole onder , 8 kole bo en twee kole aan weerskante van die oondjie, in sy gat in die grond. Hierdie broodjie behoort so na 60 minute gereed te wees.

Eiers is enige plek in Afrika te koop of te ruil, net nie in die woestyn nie, want almal hou hoenders aan vir eiers en proteïne.

Van dit . . . . .

. . . . . na dit in bietjie meer as 'n 1 uur in die bos.

(Met die hulp van 'n bietjie appelkooskonfyt en gerasperde kaas natuurlik.)

Die rede vir vier brood resepte is omdat jy darem so nou en dan iets anders wil probeer of 'n broodjie maak vir 'n spesiale geleentheid langs die pad. As jy 8-10 weke op reis is en nie gereeld 'n winkel kan besoek nie is 'n bietjie afwisseling van spyse darem maar lekker.

Bogenoemde resepte kan ook by die huis in 'n gewone oond gebak word as jy tuis wil braai. Die bak tye in die resepte bly dieselfde met die oond reeds warm op 180 oC.

BIERBROOD MET SPEK UIE EN KAAS


Ek het hierdie lekker variasie op die gewone bierbrood resep in WEGRY se April 2014 uitgawe raak gelees en kon net nie anders as om dit uit te probeer nie. Hierdie broodjie is 'n wenner maar moet sommer terwyl dit nog warm is geeet word.

Hier is die resep:

1 pakkie 500g bruismeel
1 blikkie of botteltjie bier (330ml)
1 teelepel sout

1 pakkie spekstukkies (250g)
1 koppie cheddarkaas in blokkies gesny (12mm x 10mm x 8mm)
1 ui, gekap
1 eetleppel botter of margarien

Begin deur die spekstukkies bros te braai. Braai dan die uie in die botter tot glansend. Laat eenkant afkoel en voeg dan die kaas blokkies by.


Meng nou die bruismeel,sout en bier tot 'n stywerige deeg. Gooi die deeg uit op 'n meelbestrooide oppervlak en druk dit losweg in 'n reghoek. Meng nou die spek-uie-kaas mengsel by die deeg in.


Plaas die deeg nou in 'n goed gesmeerde broodpannetjie. Die deeg het nie nodig om eers te reis nie en ek plaas die pannetjie sommer dadelik in my Pioneer brood oondtjie met 10 warm brikette onder en 8 brikette bo op die deksel in 'n gat in die grond. Die broodjie is gereed na ± 1 uur. Indien jy hierdie broodjie in die oond by die huis wil bak, plaas dit in 'n reeds warm oond by 180 oC en die broodjie behoort na 45 minute gereed te wees.

Laaste Bywerking: 2015/05/28

Flag Counter