ONS NISSAN X-TRAIL 2. 5 4x4 SE (Petrol)

Ons eerste paar ritte met die X-Trail Kaap en Zululand toe was baie aangenaam. Ons het orals in gastehuise tuis gegaan en dus nie nodig gehad om kamptoerusting saam ry nie. In 2007 besluit ons om vir 5 weke Namibië te verken en om kostes binne beheer te hou was kamp die enigste aangewese uitkoms. Tydens ons eerste ritte het ons geleer dat dit makliker is om jou kattebak of laairuim in vlakke te verdeel om sodoende makliker by dit wat jy onder gepak het uit te kom. Ek het dus dadelik vir die X-Trail ‘n dek gebou (sien aangehegte foto's). Die belangrikste was dat dit sterk moet wees veral as jy per ongeluk te vinnig oor ‘n hobbel ry en alles die lug inskiet en dan weer hard terug val, dit moet lig wees want gewig is jou grootste vyand op 4x4 toer en verder moet ek dit alleen kan installeer en verwyder. Ten slotte wou ek dit self aanmekaar sit met die basiese gereedskap wat ek in my motorhuis aanhou. Om die kant profiel te kon kry het ek eers met karton begin en bietjie vir bietjie die sykante weg gesny totdat dit netjies pas. Ek het hierdie patroon gebruik om die 12mm maritime laaghout se randte te kon uitsny. Sien aangehegte foto's vir die eindproduk.

Die volgende probleem was hoe ry ek ‘n tweede spaarwiel saam. Die oplossing was ‘n doelgemaakte spaarwiel draer wat aan die sleephaak bevestig was. En om my onkunde te bewys het ek sommer ook nog twee Jerry kanne aan die anderkant ook met ‘n swaaiarm aangebring.

Alles het wonderlik gewerk maar die gewig agter op die agterwiele was ‘n bietjie kwaai. Aangesien daar geen addisionele 4x4 toebehore beskikbaar is nie kon ons nie die vere verstyf of effens lig nie. Ek moes maar tevrede wees met ‘n 50mm sak nadat die voertuig ten volle gelaai was. Ons vryhoogte was dus sleg belemmer en om sake nog erger te maak het die spesifieke weergawe van die X-Trail ‘n agterste klankkas gehad wat besonder groot was en baie laag agter gehang het.

Elke baan het maar sy eie perd ("Horses for Courses"). Die X-Trail met sy uithang klankkas voordat ons hom met draad opgebind het. Vir die Nissan Patrol was die roete maar 'n gewone Sondag uitstappie.

Tydens ons eerste besoek aan Botswana wat natuurlik, Chobe, Savuti en Moremi ingesluit het, moes ons die agterste klankkas wat toe al vol duike gestamp was met draad vasmaak en optrek. Verder het die slegte paaie in die Chobe moeras deel (toe droog) en die feit dat die X-Trail oorlaai was tot gevolg gehad dat die agterste skokbrekers gebuig het en die voertuig toe tot op sy pens gesak het. Ons het die orige ses en dertig km na Kwai kamp aan gestrompel waar die voertuig die volgende dag met ‘n lae bed vragmotor gehaal moes word. Die voertuig was binne ‘n dag en ‘n half weer deur Nissan Maun herstel en kon ons verder ry. Ons het daarna net op gewone grondpaaie en teerpaaie gehou. ‘n Paar belangrike en duur lesse was geleer. Ten slotte die X-Trail het nogal goed gevaar in die sand solank die vryhoogte genoegsaam was.

LESSE GELEER :

  1. Luister na die ouens wat reeds die paaie wat jy nog wil ry gery het se raad.
  2. MOET NOOIT JOU VOERTUIG OORLAAI NIE, IETS GAAN BREEK, GEWAARBORG !!! Gewig is jou grootste vyand as jy gaan toer. Gewoonlik wil die mans al wat ‘n spaar onderdeel is en elke moontlike gereedskapstuk wat jy mag benodig om die voertuig oor te bou, saam neem (ek is ook hieraan skuldig), terwyl die dames net duskant die kombuis se opwasbak stop. Het ek genoem dat die mikrogolf reeds in gesmokkel is!?
  3. Toets die laai van en die gewig van die voertuig deur op ‘n naweek uitstappie te gaan met ALLES wat jy beoog om op jou reis saam te neem. Niks meer as dit wat op die naweek was met uitsondering van een of twee kleiner items wat jy dalk per ongeluk vergeet het om saam te neem tydens die naweek, mag gelaai word nie.
  4. Die minimum vry hoogte nadat jy gepak het behoort nie minder as 220mm te wees nie , 250mm en hoër is beter.
  5. ‘n Sagte SUV is nie gemaak om van nasionale paaie af te gaan nie (teer en grond paaie ingesluit, pasop vir twee spoor paaie, hulle kan skielik rof word), koop ‘n goeie 4x4 met lae bestek as jy afgeleë plekke wil besoek. Ongelukkig is dit waar die mooiste mooi geleë is, aangesien dit gewoonlik daar ongerep is.

Laaste Bywerking: 2013/11/30

Flag Counter